ADVERTISEMENT:

 

Wie moet die geraas stilmaak?

 

News  Date: 27 May 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – “Pappa, is die oom doof?” merk jou ses-jaar oue laaitie met vraende oë op. “Ja my kind, dit klink my so” kom jou skertsende antwoord.

Kwaad en moedeloos wonder jy hoe iemand so selfsugtig kan wees.

“Kan die mense nie verstaan dat nie almal in die buurt na hul lawaai wil luister nie of is daar fout met sy ore?” Skraap jy genoeg moed bymekaar om die “probleem” te konfronteer word jy begroet met ‘n “Ja, wat soek jy!?”

‘Vra jy nog?’ dink jy by jouself. ‘n Paar ander antwoorde kom ook in jou gemoed op, maar ma het jou mos met maniere grootgemaak. Jy wil nie moeilikheid maak nie, maar jy wonder waarom mense nie vir hulself dink nie.

So is daar baie inwoners wat kan getuig van hul “sonde met die bure” of met die talle “suipplekke” in die dorp se nagtelike lawaai. Om nie eers te praat van die jongklomp se karretjies met die vierkantige wiele wat jy doef-doef straatblokke ver kan hoor aankom. Jy is kwaad vir jouself dat ‘n paar selfsugtige enkelinge net die slegste in jou aanwakker, terwyl jy allerhande sinistere maniere sit en uitdink hoe om die probleem vir eens en altyd in die kiem te smoor.

Maar wie se verantwoordelikheid is dit om die klomp lawaaiers te gaan stilmaak? Die een klomp sê bel die polisie, maar dan weer is dit ‘n kwessie van “dit is nie ons verantwoordelikheid nie.” Ander sê weer dat daar nie meer iets bestaan soos rusverstoring nie. Net die afgelope week merk iemand skertsend op: “Net soos ons pragtige Grondwet jou reg tot rus en vrede beskerm, beskerm dit ook die lawaaiers se reg om geraas te maak”.

By navraag by die plaaslike vekeersafdeling, beaam ‘n woordvoerder dat die kwessie rondom rusverstoring wel die verantwoordelikheid is van die Raad, maar dat die polisie by magte is om op te tree. So ook word daar beaam dat rusverstoring as oortreding vervat is in ‘n munisipale ordinasie, by name Verstoring van Openbare Rus. Dit behels nie net dat owerhede geskakel kan word om in te gryp na aanleiding van die “geen lawaai na 22:00” jintelman ooreenkoms nie. Nee, dit behels dat ‘n klag te enige tyd gelê kan word, hetsy dag of nag. Inwoners met klagte kan te enige tyd die plaaslike Raad skakel of na-ure die brandweerstasie by tel. (015) 516 5588. Die operateur moet toesien dat die verkeersbeampte aan diens van enige klagte ingelig word, waarna hy/sy op hul beurt sal uitgaan om die klagte te ondersoek. Sou daar wel rede wees tot optrede, sal die “oortreder” gewaarsku word om sy lawaai stop te sit. Indien hy steeds versuim om gehoor te gee, kan hy ‘n boete opgelê word. Die polisie kan ook geskakel word, aangesien die versuim om gehoor te gee aan ‘n munisipale ordinasie kan aanleiding gee tot ‘n kriminele oortreding.

Ja, daar is nog iets wat gedoen kan word ten opsigte van rusverstoring. Die afgelope tyd is dit egter ‘n probleem wat meer en meer kop uitsteek en inwoners is toenemend besig om letterlik keelvol te word. Swaarder boetes word ook aangevra.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines