ADVERTISEMENT:

 

Munisipaliteit moet kennis neem oor hofuitspraak

 

News  Date: 27 May 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die Makhado Munisipaliteit behoort duidelik kennis te neem van die uitspraak van die Grondwetlike Hof in die saak oor grondbesetting deur plakkers op die plaas Modderklip, sê mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU-SA Noordstreek.

Joubert sê gerusstellende uitsprake van die LUR vir Landbou en Grondonwikkeling dat plaasinvalle nie geduld sal word nie, beteken nie veel nie, tensy daar opgetree word teen die Munisipale Bestuurder van die Makhado Munisipaliteit vir haar aandeel in ‘n grondbesettingsinsident in die omgewing van Louis Trichardt. Hy het mnr. Braam Duvenhage en sy regspan gelukgewens met die hof se uitspraak en gesê dit is ‘n oorwinning vir die beginsel van privaat eiendomsbesit.

Joubert sê dit is duidelik dat die regering nie sy aanspreeklikheid op die boer kan afskuif as hy wetlik verantwoordelik is vir die verskaffing van alternatiewe huisvesting en die beskerming van private eiendom nie.

“Dit is jammer dat die departement die volle regspad moes loop om gewys te word op sy grondwetlike verantwoordelikheid om die burgerlike regte van die grondeienaar te beskerm.”

Joubert sê die skade en trauma wat die Duvenhages moes deurmaak is onberekenbaar en die owerheid behoort ook in hierdie opsig sy verpligtinge na te kom. Hy sê, in die lig van die optrede van die Munisipale Bestuurder van Makhado tydens die plaasinval einde verlede jaar op die plaas van mnr. Bill Oldrieve, waar sy die leidende rol gespeel het, behoort die munisipaliteit kennis te neem van die Grondwetlike Hof se uitspraak.

Joubert sê die Grondwetlike Hof het ‘n duidelike boodskap uitgestuur dat die regering nie kan stilsit wanneer regeringsamptenare of ander burgers doelbewus private eiendomsreg misken nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines