ADVERTISEMENT:

 

Louis Trichardt vs Makhado - Naamsaak in Hooggeregshof aangehoor

 

News  Date: 03 June 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - As die hersieningsaansoek vir die naamsverandering slaag, is die dorp se naam weer Louis Trichardt. Die hersieningsaansoek vir die naamsverandering is op die rol geplaas vir 18 Augustus vanjaar.

“Die saak word in Augustus in die Pretoriase Hooggeregshof aangehoor indien daar niks voorval nie,” sê mnr. André Naudé, voorsitter van die Voorsittersvereniging. Advokaat Denny du Preez sal die saak behartig namens die aansoekers.

Die respondente in die saak is die Minister van Kuns en Kultuur en die voorsitter van die Suid Afrikaanse Geografiese Raad vir Plekname. Die Makhado Munisipaliteit is bygevoeg as derde respondent.

Op 6 Junie sal dit presies twee jaar gelede wees dat die amptelike verandering van die dorp se naam in die staatskoerant gepubliseer is. Advokaat Tommy Ntsewa, nasionale voorsitter van die Suid Afrikaanse Geografiese Raad vir Plekname, het daarna tydens ‘n perskonferensie op 10 Junie 2003 by die Makhado Munisipaliteit gesê dat geen besware verwag word nie.

Daar is egter binne die 30 dae beswaartydperk ‘n beswaar met volledige dokumentasie aan die kantoor van die destydse Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, dr. Ben Ngubane, oorhandig. Die besware het gehandel oor die gebrek aan behoorlike konsultasie, die naam “Makhado” en die koste-implikasie. Vervolgens is die hersieningsaansoek om die besluit dat die dorp se naam Makhado is te hersien, in Februarie 2004 by die Staatsprokureur geliasseer.

Die hersieningsaansoek wat in Augustus in die hooggeregshof dien, maak moontlik van Louis Trichardt ‘n pionier in die hofsake oor naamsverandering.

Adv. Ntsewa het ook in Meimaand die Makhado Munisipaliteit ‘n mandaat gegee om die betrokke gemeenskappe te raadpleeg oor die naamsverandering van die Hendrik Verwoerd tonnels. Ntsewa het gesê dat die Pleknaamraad sy pogings sal verdubbel om te verseker dat die Suid-Afrikaanse kaart inheemse name reflekteer.

Intussen het President Thabo Mbeki verlede week (26 Mei) in die parlement Grahamstad uitgesonder as ‘n voorbeeld van ‘n kontensieuse pleknaam. Die President het opgemerk dat Grahamstad vernoem is na ‘n besondere brutale en wrede militêre aanvoerder, die Britse lt.-kol. John Graham, wat militêre veldtogte teen die streek se inheemse Xhosabevolking gelei het. President Mbeki het gevra waarom ‘n dorp na ‘n “menseslagter” vernoem word.

Plaaslik het hierdie stelling gemoedere laat opvlam, vanweë die omstredenheid van die naam Makhado. In hul protesoptog in 2003 het die Hlanganani Beswaargroep kapsie gemaak teen die naam Makhado, omdat hy ‘n “strydlustige leier was wat weerlose vrouens en kinders in die nag vermoor het.” Daar word aangevoer dat die naam Makhado ‘n belediging vir die Bhavendas is wat tradisioneel bekend is vir hul vredeliewendheid. Volgens historici word Louis Trichardt onthou vir sy positiewe rol in vredesonderhandelinge tussen strydende groepe onder die Vendas.

Wat die komende hofsaak insake die naamsverandering betref, is aan mnr. Naudé gevra of hofsake teen die staat gewen word.

“Verseker word sake teen die staat gewen,” sê mnr. Naudé. Hy het verwys na die saak wat teen die regering gewen is in verband met die Venda Pensioenuitbetalings. Verder is die Modderklipsaak ook onlangs teen die staat gewen, waar die konstitusionele hof beveel het dat die staat sowat 70 000 plakkers op die plaas Modderklip aan die Oos-Rand na ander grond verskuif of dat die eienaar van die plaas vir sy grond vergoed word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines