

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 June 2005
MOPANIE – Die Mopanie Boerevereniging het mev. Petro Meiring verkies tot voorsitter. Sy is, sover bekend, een van die heel eerste vroue wat in dié hoedanigheid verkies word.
Die voorsitter van die TLU-SA Noordstreek, mnr. Dries Joubert, het in ‘n mediaverklaring sy tevredenheid met mev. Meiring se verkiesing uitgespreek. Mev. Meiring is op Donderdag, 26 Mei, tot voorsitter van die Mopanie Boerevereniging verkies. Sy volg mnr. Eben de Bruin op, wat die gebied verlaat. Mnr. Willie Hogan is tot ondervoorsitter verkies en Lezé du Plessis tot sekretaresse.
Mev. Meiring het ander kategorie C-lede aangemoedig om meer aktief betrokke te raak. Sy is lid van die TLU-SA vandat Kategorie C-lidmaatskap in werking gestel is.
Mev. Meiring sê een van haar eerste take is om die Boerevereniging se administrasie op datum te kry en sy en haar span gaan hard werk om lede te aktiveer en die boerevereniging weer op te bou tot een van die bestes in die Noordstreek.
“Dit is belangrik om seker te maak dat die eggenotes van alle TLU-SA lede betrokke raak. Meer en meer eise word aan landbouers gestel en daarom word eggenotes se bydraes meer en meer noodsaaklik in die stryd om boere ekonomies volhoubaar en veilig op hul plase te hou,” sê Mev. Meiring.
Die voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie, mnr. Gideon Meiring, het gesê hy het volle vertroue in die nuwe bestuur. Hy het die bestuur sterkte toegewens met hul taak.
Mnr. Joubert sê die TLU-SA het al oor en oor bewys dat bekwaamheid nie geslaggebonde is nie. Hy sê mev. Meiring het haar al oor en oor bewys en hy sien uit na al die aktiwiteite gedurende haar termyn as voorsitter. Hy het haar gelukgewens met haar verkiesing en die volle samewerking van die Streekkantoor belowe.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
