

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 June 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Nog drie beamptes van die Makhado Munisipaliteit is die afgelope week geskors.
Die Munisipale Bestuurder, me. Faith Muthambi, het Woensdag by navraag bevestig dat die Bestuurder: Beskermingsdienste, mnr. Thomas Nndwambi, die bestuurder van die plaaslike munisipale werkswinkel, mnr. Deon Venter, sowel as mnr. Jimmy Moodie vir drie maande geskors word. Hul skorsing is hangende die uitslag van die voortgesette ondersoek wat spruit uit die verslag van die ad hoc komitee na beweerde korrupsie en wanpraktyke onder die amptenary. Die ad hoc komitee is aangewys as deel van die burgemeester, rdl. Rhulani Nkuzana, se 100-dae-program wat in September 2003 geloods is. Die bevindinge van die komitee is oorhandig aan ‘n onafhanklike geregtelike komitee wat die ondersoek in fases afhandel. Me. Muthambi sê die drie se tydelike skorsing is in belang van die voortgesette ondersoek.
Me. Muthambi het ook bevestig dat die dissiplinêre verhoor van die Direkteur van Beskermingsdienste, mnr. Mavhungu Musitha, vandeesweek afgehandel is en vir finale besluit aan die Uitvoerende Komitee van die munisipale Raad oorhandig is.
Die afgesette vorige munisipale bestuurder mnr. Reuben Rambado se skorsing het eweneens uit die bevindinge van die ad hoc kommittee en aanbevelings van die geregtelike komitee voortgespruit.
Twee ander senior amptenare, mnre. Ramavoya en Wilson Nku¬na, wat ook geskors is, het intussen uit die diens van die Raad getree, voordat die proses teen hulle voltooi is. Mnr. Ramavoya het bedank en mnr. Nkuna het op mediese gronde om ontslag aansoek gedoen.
Die ad hoc kommittee se ondersoek na bewering van korrupsie en nepotisme moes teen die einde van 2003 aan die munisipale Raad voorgelê word. Die volledige bevindinge in die verslag is nooit aan die publiek bekendgemaak nie. ‘n Regspan is daarna aangewys om ondersoeke teen verskeie amptenare te voltooi en in Januarie 2004 is ‘n dissiplinêre tribunaal aangestel om optrede te help finaliseer.
Intussen is me. Muthambi self nog verhoorafwagtend op ‘n aanklag van beweerde bedrog, wat voortspruit uit die verkoop van ‘n voertuig vir eie gewin terwyl dit na bewering steeds die eiendom van die Raad was. Sy het reeds in die plaaslike landdroshof verskyn en haar saak is uitgestel tot 1 Julie vir verdere verhoor. Sy is intussen borgtog van R2 000 toegestaan.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
