

ADVERTISEMENT:

Me. Katja Kowalec onderteken kopieë van haar boek Those miraculous sunflower seeds tydens 'n Victoriaanse tee by Kennington Lodge op 22 Augustus. Foto verskaf.
News Date: 03 September 2015
Tydens ‘n Victoriaanse tee by Kennington Lodge net buite Louis Trichardt het gaste nie alleen ‘n wonderwerk-storie van die Tweede Wêreldoorlog gehoor nie, maar ook besluit om ‘n Care Buddies-tak te stig om aandag en liefde in die lewe van bejaardes te bring.
Terwyl gaste op 22 Augustus uit die fynste Royal Albert- en Royal Dalton-koppies tee geniet en aan heerlike eetgoed gesmul het, het hulle ook geluister na die verhaal van die 91-jarige me. Katja Kowalec van Mbombela (Nelspruit).
Sonneblomsade sal altyd vir haar ‘n simbool van ‘n wonderwerk en vryheid bly. As jongmeisie van Pools-Duitse afkoms het sy haar by ‘n stasie in Pole bevind op pad om na Siberië gedeporteer te word. ‘n Russiese soldaat het vir haar van sy sonneblomsade aangebied om te eet en sy het dit in haar sak gebêre. Later het hy haar met sy geweer se bajonet in die rug gestoot en sy het gedink hy gaan haar doodskiet. Hy het haar egter tot in ‘n koringland gestoot en gesê: “Hardloop!”
Die titel van haar merkwaardige lewensverhaal is dan ook Those miraculous sunflower seeds. Kowalec het al meer as een keer op Kwêla verskyn. Haar Care Buddy, me. Priscilla Eva, sê dat daar onderhandelinge aan die gang is om haar boek in ‘n draaiboek vir ‘n film te omskep.
Die gaste het ook gehoor dat die nie-winsgewende organisasie, Care Buddies, se doel is om verhoudings met bejaardes te bou en liefde, ‘n oor, geselskap en omgee aan bejaardes te gee. Me. Marlene van der Merwe van Louis Trichardt het dit mooi opgesom: “Ons is daar om vir hulle te sing en te lees en uit te neem as fondse beskikbaar is. Die tyd wat ons saam met hierdie liewe mense deurbring, hulle wat met verwagting uitsien na ons besoeke, is vir ons net so spesiaal soos vir hulle. Hulle geniet ons net soveel as wat ons dit geniet om hulle te laat lag en vir hulle die geskenk van ons tyd te gee…”
Me. Christine Cohen is gekies as die Louis Trichardt Care Buddies voorsitter. “Ons is in die proses om met verkillende instansies te skakel en daarna sal ‘n komitee saamgestel word. Ons dink baie keer dit is geld wat mense nodig het, maar dit is omgee wat bejaardes die nodigste het. Almal wat daarin belangstel om vir bejaardes om te gee, is welkom om my te skakel,” het Cohen gesê.
“Ek dink dit was ‘n sukses. Ons is baie bly oor die goeie opkoms,” het me. Hester Ferreira van Kennington Lodge gesê. Daar was sowat 140 gaste.
Diegene wat by Care Buddies wil aansluit, kan Christine skakel by 072 3722 301 en navrae oor Katja se boek kan gerig word aan Priscilla by 083 280 5057.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
