

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 June 2005
BANDELIERKOP – Die dag toe oom Dolf van Rensburg vir Tassie huistoe gebring het, sou hy nooit kon raai dat die klein dierasie van ‘n perdjie ‘n vriendskap sou aanknoop met ‘n gewone vark nie.
Tassie is ‘n tweejarige dwergperdjie wat sowat 51cm hoog staan en van sy bors tot sy agterstewe 63cm lank is.
Oom Dolf het vir Tassie ses maande gelede by ‘n meneer Tas in Noordwes gekry en besluit om die perdjie na hom te vernoem. Tassie het die aand by sy nuwe woning saam met Daantjie, die hansvark, geslaap en van daardie oomblik af het hulle boesemvriende geword.
Daantjie het ongelukkig baie vinnig gegroei en moes kort voor lank aan ‘n varkboer verkoop word wat met hom wou teel. Tassie loop nou gereeld om na die ander varke se hokke en die ander diere wat soos hy vry op die werf rond loop.
Oom Dolf het ook vertel dat Tassie opgewonde runnik elke keer as hy vir oom Dolf in die oggend gewaar, want dan weet hy dit is nou tyd vir sy daaglikse ontbyt. Tassie se kos bestaan uit meel en mielies wat natuurlik sy gunsteling is, maar sodra sy kos-emmer leeg is gooi hy dit sommer eenkant toe en skud sy kop van tevredenheid.
Die ander diere op die plaas sien almal kans vir Tassie en nie eers die hoenders is vir hom bang nie. Oom Dolf het ook gesê dat verskeie mense al ‘n aanbod gemaak het om vir Tassie te koop, maar hy sal dit nooit oor sy hart kan kry om sy gunsteling troeteldiertjie te verkoop nie, nie vir al die geld in die wêreld nie.
Ou Tassie mis sy ou vriend Daantjie nog baie en selfs oom Dolf het gesê hy is spyt dat hy vir Daantjie moes verkoop, maar vir ‘n vark wat loop net waar hy wil en so groot is, het hy regtig ‘n probleem geraak veral as dit kom by die tuin. Oom Dolf mis ook vir Daantjie en skakel gedurig om te hoor hoe dit met hom gaan.

ADVERTISEMENT:
