

ADVERTISEMENT:

Een van die suksesvolle aannemings wat deur die DBV se nuweFacebook-blad gedoen is. Jamie Venter en sy pa Jimmy het vir Charlie en Milo huis toe gevat. Foto: SPCA Louis Trichardt.
News Date: 04 September 2015
Danksy die gebruik van tegnologie is die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) steeds besig met hul goeie werk.
In tye waar almal die belt 'n bietjie stywer trek, trek die DBV swaar. Daar is reeds vyf ander takke wat die laaste vyf jaar hulle deure moes sluit, omdat die fondse opgedroog het. Een so tak was in Krugersdorp, wat heelwat meer inwoners het om op te steun as hier in Louis Trichardt, en praat jy met die mense van ons eie tak, het Krugersdorp nie so 'n wye gebied gehad om in te werk soos hier nie.
Louis Trichardt se DBV moet nie net na weggooi- of rondloperkatte en -honde kyk nie, maar moet ook gevalle van dieremishandeling ondersoek. Dit sluit gevalle in so ver as Musina, Levubu, Thohoyandou en selfs tot in Vivo - weliswaar die hele Vhembe-gebied.
Dit vat baie trane en harde werk elke dag om by die DBV uit te help. Die Zoutpansberger het verlede week met twee nuwe vrywilligers gesels oor hulle dag-tot-dag ervaringe. Hulle skryf die sukses van die plaaslike tak grootliks toe aan mev. Bea Reimer, plaaslike diere-inspekteur Lawrence Khodobo en hul komitee wat al dekades lank aanhou en uithou.
Dié twee vrywilligers, Alicia Thomas en Adri Viviers, het natuurlik 'n passie vir diere, maar het vinnig besef dat dit nie genoeg gaan wees nie. Die tak se bestaande Facebook-blad is bietjie opgekikker en daarop word honde en katte geadverteer sodra hulle reg is vir aanneming.
En dit werk!
Dit is nou al amper drie maande en die blad se volgelinge het amper verdubbel. Boonop kon hulle sover 13 honde aangeneem kry. “Mense kan op die Facebook-blad gaan kyk watter diere is beskikbaar, en dan 'n draai kom maak om die aannemingsproses te begin,” het Alicia vertel. “Ons grootste doel is om ons deure oop te hou,” het sy bygevoeg en gesê dat baie mense nie besef dat die DBV nie deur die Staat gesubsidieer word nie. “Ons maak 100% staat op ons inwoners,” het Alicia gesê.
Verder poog die Facebook-blad om die DBV meer deursigtig te maak vir die publiek. Behalwe vir diere wat geadverteer word vir aanneming, is daar kort stories van die personeel en vrywilligers. Inligting oor hoe 'n aanneming werk is ook daar beskikbaar. Daar word ook gevra vir hulp, borge word bedank en suksesvolle aannemings word gedeel.
Oscar, ‘n steekhaar skootbrakkie, was die mees onlangse aanneming. Hy is deur die Smith-familie van Louis Trichardt aangeneem en van sy eerste foto’s by sy nuwe huis is te sien op die DBV-blad.
Elke aanneminggeval is anders. Diere wat vermoedelik vermis geraak het, word vir twee weke gehou om te sien of die eienaar na vore kom. Daarna word die dier uitgeplaas vir aanneming. "Mense moet egter onthou om die DBV te skakel as hul diere vermis raak," sê Alicia. Daar is ook gevalle waar honde so mishandel is of ondervoed is, dat daar eers 'n bietjie langer na hulle gekyk word voordat hulle aangeneem kan word.
"Daar is vir ons niks lekkerder as ons 'n liefdevolle huis vir een van ons diere kry nie," sê Alicia en Adri. "Op daardie punt wil ons ook ons ongelooflike gemeenskap bedank vir hulle omgee en bydrae - ons kan dit nie sonder julle doen nie."
Die Facebook-blad kan gevind word onder die naam SPCA Louis Trichardt. Vrae op die blad word dadelik beantwoord. Diere-inspekteur Khodobo kan ook gekontak word vir verdere navrae, hulp of om 'n geval van mishandeling aan te meld by 082 965 5151.
Hoe kan ek en jy ‘n verskil maak?
* Donasies! Maak nie saak hoe klein of hoe groot nie; elke sent word benut. Inwoners kan 'n maandelikse debietorder teken.
* Kos.
* In stede van 'n nuwe hond of kat te koop, neem eerder 'n dier aan by die DBV.
* Help uit by die DBV. Daar is leibande beskikbaar vir inwoners wat met die honde wil gaan stap. Nog beter, maak 'n uitstappie daarvan en vat die kinders saam om met die honde te speel.
* Daar is fondsinsamelingsfunksies en projekte wat steun nodig het. Die eerste hiervan is die plaaslike DBV se jaarlikse fondsinsamelingsfunksie op 29 Oktober. Vir meer inligting hieroor kan Alicia geskakel word by tel. 084 900 5332. Hulle het ook 'n stalletjie op nasionale Braaidag, 24 September, by Lalapanzi, asook 'n stalletjie tydens die Roadhogs se Day Jol op 3 Oktober.
* Gaan ondersteun die Facebook-blad.
* Dra jou hart op jou mou, of arm dan, en koop 'n DBV-kralebandjie. Dié bandjies is beskikbaar by Limpopo Vet Shop.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
