

ADVERTISEMENT:

Generic image
News Date: 07 September 2015
Die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) het ‘n klag ingedien by die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) teen die Makhado Munisipaliteit.
Hul klag sluit in die unie se ongelukkigheid oor die algemene waardasierol van 2014 tot 2018; verwarring rondom munisipale verordenings; die wyse waarop inligting rondom die waardasierol en rekeninge aan die gemeenskap deurgegee word; gebrekkige konsultasie ten opsigte van die munisipaliteit se ontwikkelingsplan en begroting; en kritiek teen die aanvullende waardasierol soos in 2015 gepubliseer. Die OB se kantoor in Polokwane het reeds ontvangs erken van die klagte en afskrifte van die klag is ook ingedien by die munisipale kantore op 30 Julie vanjaar. Die Ouditeur Generaal, nasionale- en provinsiale tesourier, sowel as SALGA (South African Local Government Association) en COGHTA (Cooperative Governance, Housing and Traditional Affairs) is ook van die klag ingelig.
Die SDLU het in ‘n verklaring gesê dat die landbougemeenskap in die omgewing al vir etlike jare in korrespondensie is met die munisipaliteit om kwessies aan te spreek oor die wyse waarop grondbelasting op plase gehef word. Die implementering van die 2014 tot 2018 waardasierol het verdere onenigheid ontketen want, sê die SDLU, die waardasierol reflekteer nie wat in die mark gebeur nie. “Kommentaar is deur die SDLU ingedien en die reaksie vanaf die munisipaliteit het gedui op oënskynlike onbevoegdheid om die aangeleentheid korrek te hanteer,” sê die SDLU.
Die unie het spesifiek verwys na 15 plaaseienaars en unielede in die Vivo-omgewing wat ‘n dispuut met die munisipaliteit verklaar het rondom die grondbelasting wat op hul plase gehef word. Hierdie heffings word sedert November verlede jaar ingevorder. “Geen reaksie op hierdie dispuutverklarings is tot op datum ontvang nie,” het die SDLU gesê.
Wat hul argument van gebrekkige konsultasie betref, het die SDLU verwys na die advertering van die munisipaliteit se voorlopige ontwikkelingsplan en –begroting in April vanjaar. Die SDLU sê die munisipaliteit het geadverteer dat die dokumente op hul webtuiste beskikbaar was, maar die dokumente was nie daar beskikbaar nie. Talle pogings van hulle kant af om afskrifte van die dokumente te kry, sê die SDLU, het ook op dowe ore by die munisipaliteit geval. “Die munisipaliteit het voortgegaan om die proses soos uiteengesit in die toepaslike wetgewing te stoomroller…” sê die SDLU. In dié verband het die SDLU gewys op wetgewing (Munisipale Stelsels Wet, Wet 32 van 2000) wat spesifiek aandui hoe daar gekonsulteer moet word voor die aanvaarding van ‘n munisipaliteit se ontwikkelingsplan en -begroting.
In die SDLU se klag aan die OB verwys hulle ook na grondeienaars wat rekeninge van die Makhado Munisipaliteit ontvang, alhoewel die grondeienaars nie meer binne die Makhado munisipale grense val nie. In 2006 reeds het die Afbakeningsraad die munisipale grense vanaf Schiermonnikoog na die Vivo-sakegebied verskuif. Dit het beteken dat sekere plase nou nie meer onder Makhado resorteer nie, maar wel onder die Blouberg munisipale gebied. “Sedert 2014 is verskeie skrywes aan die munisipaliteit gestuur om die aangeleentheid reg te stel, maar geen verandering in die munisipaliteit se gedrag hieroor is ervaar nie,” sê die SDLU. Tot Julie vanjaar het hierdie grondeienaars wat nou in Blouberg val nog steeds rekeninge van Makhado ontvang. “Die grootste kommer in hierdie aangeleentheid is die feit dat die munisipaliteit hierdie foutiewe rekeninge se inkomste in sy begroting insluit, wat definitief ‘n negatiewe effek op die finansiële situasie van die munisipaliteit gaan hê,” sê die SDLU.
Makhado munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het in reaksie gesê die munisipaliteit is bewus van die klag wat teen hulle ingedien is. Hy het gesê hulle is tans besig met ‘n deeglike ondersoek na die aangeleentheid.
Bobodi het ontken dat die dokument waarna die SDLU verwys nie beskikbaar was op hul webtuiste nie. “Belangstellendes kon ook ons kantore besoek het om afskrifte van die dokumente te bekom,” het Bobodi gesê. Hy het bygevoeg dat hy hulle geen kennis dra daarvan dat die SDLU gepoog het om die dokumente in die hande te kry nie.
Wat laasgenoemde aangeleentheid betref, oor plase wat nie meer in die Makhado munisipale area val nie maar steeds deur die munisipaliteit aangeslaan word vir grondbelasting, het Bobodi gesê dat hulle in gesprek is met die Blouberg Munisipaliteit en dat ‘n ondersoek in dié verband aan die gang is.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
