ADVERTISEMENT:

 

Asgate word 'n broeiplek vir onheil

 

News  Date: 30 April 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Aanrandings en diefstalle in en om die munisipale stortingsterrein op die Vondelingpad wek toenemend kommer, in so 'n mate dat die munisipaliteit ernstige optrede beoog.

In een voorval is 'n werker in sy laat twintigerjare aangerand en beroof deur sowat 11 aanvallers, terwyl hy by die asgate verbygeloop het. Hy was onderweg na Eltivillas om sy vrou te gaan haal sodat sy nie alleen in die gevaarlike terrein sou beweeg nie. Toe hy die groep aanvallers gewaar, het hy deur die draad in die stortingsterrein probeer ontsnap. Hy het na bewering 'n beroep op die munisipale hekwag gedoen om hom te help, maar die aanvallers het hom agtervolg en beroof van sy selfoon, I.D. dokument en R300 kontant, skynbaar ten aanskoue van die hekwag.

Volgens sy werkgewer, mnr. Jaco Oberholzer, is hy oor die kop geslaan sodat die bloed by sy ore uitgeloop het en vir hospitaalbehandeling geneem is. Die voorval het op 27 Maart plaasgevind. Die saak is op 28 Maart by die plaaslike polisie aangemeld, maar die saak het tot op hede nog geen vordering getoon nie.

Die afgelope week moet werkers heen en weer verby die munisipale stortingsterrein en weikampe aangery word, omdat hulle nie meer daar wil loop nie.

"Ons neem hulle nie kwalik nie," sê mev. Mariaan Oberholzer, nadat 'n werker verlede week 'n doodsdreigement gekry het as hy weer in daardie omgewing sou loop. Die Oberholzers se eiendom lê aan die suidekant van die stortingsterrein.

"Elke paar aande gaan ons honde verskriklik te kere, dan is dit waarskynlik weer die onwettige bewoners van die weidingskampe wat kom kos uitkrap by die asgate," sê mev. Oberholzer.

"Die heinings is stukkend, enige een kan daar ingaan."

Die gate in die heinings en gebrek aan munisipale beheer, met die gevolglike vrye toegang vir onwettige immigrante, vlugtelinge en haweloses, is ook al male sonder tal onder die aandag van die munisipaliteit gebring deur nog 'n buurman, professor Ben van der Waal.

In 'n skrywe van 1 Maart 2004 aan die munisipaliteit, met 'n afskrif aan die plaaslike polisie, skryf hy: "Ek moet dit onder u aandag bring dat persone aanhoudend die munisipale eiendom gebruik as wegkruipplekke waarvandaan misdaad beplan en uitgevoer word." Prof. Van der Waal sê dat die munisipale weidingskampe al vir 'n aantal jare die blyplek van onwettige bewoners is, maar dat die situasie nou aansienlik versleg het. Aanvalle en diefstalle neem toe. Diefstalle sluit in elektriese kabels, elektriese motors, aluminium besproeiingspype, dompelpompe en telefoonkabels.

By navraag het mnr. Masindi Mapholi, Direkteur: Tegniese Dienste van die Makhado Munisipaliteit die afgelope week gesê dat hulle besig is met die finalisering van die waarneming van die heining en 'n kwotasie om die gate daarin te herstel. Mnr. Mapholi sê dat die paaie reeds lankal geskraap moes gewees het. Hy het gesê dat die indringerplante die verantwoordelikheid is van diegene wat die weidingskampe by die munisipaliteit huur, maar hy het bygevoeg dat advies rondom bosbeheer en indringerplante van die omgewingskenners verkry word. Sekere aspekte van die stortingsterrein se beheer val onder Tegniese Dienste en ander onder Gemeenskapsdienste.

Tydens 'n besoek aan die munisipale stortingsterrein en weidingskampe op 27 April, is bevind dat daar reeds 'n begin gemaak is met die skraap van paaie. Dit het alreeds tot gevolg gehad dat sommige bosplakkers vir eers verskuif het. Mnr. Oberholzer was in die omgewing toe die plakkers, vermoedelik Zimbabwiërs, die munisipale werker met klippe bestook het. Toe hulp opdaag, het hulle hul uit die voete gemaak.

Die sekuriteitsituasie by die stortingsterrein ressorteer onder die Direkteur: Gemeenskapsdienste, mnr. Mavhungu Musitha. Mnr. Musitha het Woensdag gesê dat totale eliminasie van die indringers deel is van die voorgestelde sekuriteitsmaatreëls by die stortingsterrein. Die skraap en monitering van paaie binne en buite die omheining is ook deel van die maatreëls. Verder sal die beskadigde omheining herstel word en die gedeelte vanaf die hoofingang tot by die sekuriteitswag se kantoor sal vervang word met 'n nuwe omheining.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines