

ADVERTISEMENT:

Hoërskool Louis Trichardt
News Date: 14 September 2015
‘n Insident by Hoërskool Louis Trichardt Dinsdagmiddag het weereens die soeklig geplaas op die baie aktuele onderwerp van skoolgeweld en –afknouery (bullying).“Ons staan nie terug vir sulke gedrag nie en ons tree daadwerklik op,” het skoolhoof mnr. Louis Cilliers Woensdagoggend aan die Zoutpansberger gesê. Hy het gereageer op Dinsdag se voorval waar ‘n geveg ontstaan het tussen ‘n Graad 11- en 'n Graad 12-leerling, waartydens die Graad 11-leerling met ‘n mes gesteek is.
Die geveg is klaarblyklik aangevuur deur jaloesie oor ‘n meisie. Die Graad 11-leerling het met die meisie uitgegaan, maar die meisie het intussen die verhouding verbreek. Die Graad 12-leerling is nie in ‘n verhouding met die meisie nie, maar is ‘n klasvriend van haar.
Cilliers het gesê dat die Graad 11-leerling reeds verlede week kennis gekry het van ‘n dissiplinêre verhoor teen hom weens wangedrag, juis oor ‘n klagte van afknouery teen die betrokke Graad 12-seun. Fisies is die Graad 12-leerling heelwat kleiner gebou as die Graad 11-leerling. ‘n Dag voor die Graad 11-leerling egter dissiplinêr verhoor sou word, het dinge lelik handuitgeruk.
Omstreeks 13:00 het die Graad 12-leerling by die skool opgedaag vir sy middagsessie vraestel as deel van die Graad 12’s se jaarlikse rekordeksamen. Die Graad 11-leerling het hom gesien en op hom afgestorm. “Dit is voorafgegaan deur intimiderende SMS'e van die Graad 11-leerling aan die Graad 12-leerling wat hom gedreig het,” het Cilliers gesê.
In ‘n poging om ‘n konfrontasie te vermy, het die Graad 12-leerling by ‘n klas ingehardloop. Daar was slegs 'n damesonderwyser in die klas. In daardie stadium het die Graad 12-leerling reeds die mes in sy hand gehad in verdedigende houding, terwyl die Graad 11-leerling hom bly rondpluk het. Die onderwyser, sê Cilliers, het besef sy is nie sterk genoeg om die twee seuns uitmekaar te hou nie en het gehardloop om hulp te kry.
Met die onderwyser uit die klas uit, het die konfrontasie voortgeduur. In 'n stadium het die Graad 12-leerling die Graad 11-leerling in die bobeen met die mes gesteek.
Intussen het hulp opgedaag en die twee seuns is van mekaar geskei. Die hele geveg het skaars twee minute geduur.
Die beseerde seun is dadelik na die kantoor geneem vanwaar hy deur ‘n onderwyser geneem is vir mediese behandeling en steke. Die Graad 12-leerling het intussen teruggekeer na die eksamenlokaal vir die skryf van sy eksamenvraestel.
Die Graad 12-leerling is ná die insident geskors met onmiddellike effek. “Alhoewel dit dalk verstaanbaar is dat hy met die mes skool toe gekom het, omdat hy waarskynlik bang was, het hy ook daardeur die skool se gedragskode, in lyn met die nasionale skolewet, oortree,” het Cilliers gesê. Juis hieroor, het Cilliers gesê, het die Graad 12-leerling kennis gekry van ‘n dissiplinêre verhoor teen hom.
Wat die Graad 11-leerling betref, sou die aanvanklike dissiplinêre verhoor waarvan hy verlede week kennis gekry het, Woensdagaand plaasvind. Cilliers het bevestig dat die verhoor voortgaan en dat hy tegelykertyd ook oor Dinsdag se voorval verhoor sal word. Ná alle waarskynlikheid sal hy ook geskors word. Alhoewel beide seuns dan die skoolterrein belet sal word, sal hulle steeds toegelaat word om hul eksamens af te lê, aangesien hulle volgens die skolewet nie daarvan weerhou mag word nie.
“Tot op hede volg ons die voorgeskrewe prosesse soos vervat in die skolewet om teen sulke gedrag op te tree. Ons is welbewus van ons verantwoordelikheid om ons kinders en hulle ouers te beskerm teen sulke wangedrag op die skoolterrein … Beide leerlinge sal die gevolge van hulle gedrag moet dra,” het Cilliers gesê.
Cilliers het ouers verseker dat hierdie ‘n geïsoleerde insident was en dat hulle talle stelsels in plek het om kinders se veiligheid en sekuriteit te verseker. “Gevegte oor meisies is nie iets nuuts nie en beslis nie uniek aan Hoërskool Louis Trichardt nie,” het Cilliers gesê.
Alhoewel dit teen druktyd nog nie amptelik was nie, is daar deur die Zoutpansbergerverneem dat beide seuns moontlik kriminele klagte in die gesig staar.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
