

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 June 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die Makhado Munisipaliteit se Direkteur van Beskermingsdienste, mnr. Mavhungu Musitha, se diens is amptelik beëindig.
Mnr. Musitha se summiere ontslag is laat verlede week bekragtig, na afloop van ‘n formele dissiplinêre verhoor. Na afloop van die verhoor is amptelik aanbeveel dat die direkteur ontslaan word weens wangedrag. Hy kan teen die bevinding appelleer.
Die klagtes van wangedrag teen direkteur Musitha het hoofsaaklik bestaan uit ‘n reeks voorvalle van beweerde diensweiering, pligversaking en insubordinasie.
Die bevinding was dat Musitha deur herhaalde dade van disrespek sy werkgewer se wettige gesag misken het. Dié oortreding wettig summiere ontslag.
Volgens betroubare inligting is Musitha op 8 Junie (verlede Woensdag) per amptelike brief in kennis gestel van die bevinding en sy summiere ontslag.
Hy is skriftelik versoek om sy kantoor te ontruim en alle munisipale toerusting en eiendom, insluitende sy selfoon en amptelike voertuig, terug te handig. Hy het ‘n opsie om te onderhandel vir die koop van die voertuig.
Direkteur Musitha se ontslag kom in dieselfde week waarin bekend gemaak is dat drie ander munisipale amptenare, waaronder mnr. Musitha se Bestuurder: Beskermingsdienste, mnr. Thomas Nndwambi, geskors is, hangende die voortgesette ondersoek na beweerde korrupsie en wanpraktyke. Die ondersoek het voortgespruit uit die verslag van ‘n ad hoc komitee wat ondersoek ingestel het na bewerings van korrupsie, nepotisme en ander wanpraktyke in die munisipaliteit. Die ad hoc komitee is aangewys deur die huidige burgemeester, raadslid Rhulani Nkuzana om ‘n skoon administrasie te verseker.
Drie ander senior amptenare, naamlik die vorige Munisipale Bestuurder, mnr. Reuben Rambado, ‘n voormalige Assistent Bestuurder in die munisipale departement van Finansies, mnr. Mbulaheni Ramavhoya en die voormalige Bestuurder: Menslike Hulpbronne, mnr. Wilson Nkuna, is vroeë geskors nadat hulle in die ad hoc komitee se verslag geïmpliseer is. Rambado is uit diens gestel, Ramavhoya het bedank en Nkuna het aansoek gedoen vir ontslag op mediese gronde.
Musitha is een van die groep munisipale direkteure wat tydens die bewind van die vorige burgemeester, Brighton Tlakula, op hoogs omstrede wyse aangestel is. Die munisipale bestuurder, Me Faith Mutambi, het vandeesweek by navraag mnr. Musitha se summiere ontslag bevestig.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
