ADVERTISEMENT:

 

Ouers woedend oor kwajongstreek

 

News  Date: 17 June 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - ‘n Insident waar skoolpoetse so amper rampspoedige gevolge gehad het, laat bekommerde ouers nadink oor die huidige dissiplinêre stelsel wat vir skole geld.

Die voorval het plaasgevind op Woensdagoggend, 8 Junie toe ‘n Graad 12-leerder by die skooltrappe van die plaaslike hoërskool wou opstap. ‘n Reuse klip het haar rakelings gemis.

“As my kind ‘n sekonde vroeër by die trap opgegaan het, was sy of dood of verlam,” het die geskokte vader na die voorval gesê.

“Ek was op pad met die trap op, toe hoor ek ‘doef’ en ek sien hier kom ‘n groot klip. Daar was kinders wat daar bo gestaan het. Ek het opgegaan met die trappe en gevra wie die klip gegooi het. Hulle het gesê dis nie een van hulle nie. Ek het gesê die klip kon nie net self afgevlieg het nie,” vertel die dogter. Sy het die klip se grootte vergelyk met die van ‘n gewone rekenaarskerm. Die klip het klaarblyklik ‘n hap uit die een trap geval en ‘n ander gekraak.

Die skool het vasgestel watter seun die amper noodlottige kwajongstreek aangevang het. Hulle het die saak hanteer en beskou die aangeleentheid as afgehandel.

“Die ouers het hulle volle samewerking gegee, die kind is deeglik tuis gestraf en die ouers sal die skade vergoed. Dit was ‘n geval van kattekwaad wat ook deur die dissiplinêre stelsel van die skool hanteer word,” het die skoolhoof, mnr. Henry Denner gesê. Hy het voorts gesê dat die dissiplinêre stelsel nie onmiddellik ten volle in werking kom nie as gevolg van die eksamen.

Die dogter se pa sit egter steeds met vrae in sy gemoed.

“Hoe kan jy ‘n klip van die skool se restaurantbalkon afgooi sonder om te kyk. ‘n Klip is ‘n doodswapen. Op ‘n hoofweg, as ‘n kind ‘n klip van ‘n oorbrug afgooi, word hy toegesluit vir poging tot moord.” Die pa sê dat hy nie ‘n kriminele klag of regstappe oorweeg nie. “Ek sê dankie dat my kind lewe.” Hy sê dat hy steeds met die ouers van die seun in gesprek wil tree.

Wat die dissiplinêre stelsel in die algemeen betref, sê mnr. Denner dat elke saak op meriete hanteer word. Die skool tree op binne die maatreëls wat deur die wet toegelaat word. Dissiplinêre maatreëls is een van die sake wat verlede Vrydag by die NUE (National Union for Education) kongres ter sprake gekom het.

“Daar is gevra dat daar meer maatreëls moet kom,” sê mnr. Denner.

In 1996 het die Skolewet skole verbied om lyfstraf toe te dien. Sommige ouers is van mening dat hierdie wet onderwysers gelaat het sonder ‘n baie effektiewe metode om dissipline te handhaaf. In 2000 het die grondwetlike hof in die saak Christen Onderwys Suid-Afrika teen die Minister van Onderwys bevind dat selfs ouers by privaat Christenskole nie onderwysers kan aansê om lyfstraf namens hulle te gebruik om hulle kinders te dissiplineer nie.

Ander ouers wil weer glad nie hê dat die skool hulle kinders enigsins moet dissiplineer nie. Die skool voel dat losse dissipline in die gemeenskap die skool se taak bemoeilik.

“Sekere ouers wil hê dat die skool moet optree teen ander kinders, maar net nie teen hulle eie kind nie,” sê mnr. Denner. Hy het beklemtoon hoe belangrik samewerking tussen die skool en die ouers is.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines