

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 June 2005
ELIM – Die Meat & Eat Slaghuis hier het Dinsdag (7de) die slagoffer geword van ‘n gewapende roof.
Omstreeks 18:00 het mev. Almarie van Heerden haar dogter, mev. Marisa Gerber (bestuurderes), by die slaghuis kom oplaai. Marisa het na haar ma se voertuig gestap met ‘n banksak waarin die dag se kontant was, terwyl die sekuriteitswag wat privaat deur hulle aangestel is, die slaghuis gesluit het.
Skielik het Marisa gevoel hoe daar aan die sak geruk word en ‘n man voor haar sien staan. Hy het vir haar gekyk en vir die sak gevra. Marisa het eers nie geweet wat om te sê nie, toe sien sy hy hou ‘n rewolwer in sy hand vas.
Marisa het dadelik die sak gelos en ‘n tweede verdagte, ook ‘n man, het die sak van agter gegryp en beide het op die vlug geslaan.
Marisa se man, Ryno Gerber het die dag nie gewerk nie, aangesien hy by hul kinders was. Hy het gesê hulle is al drie jaar met die slaghuis doenig in Elim en dit is die eerste keer dat so iets gebeur het. Die rowers het met sowat R9 000 se kontant en Marisa se handsak, wat haar selfoon, lisensie, paspoort en haar identiteitsdokument bevat het, weggekom. Die twee rowers is volgens Marisa nog baie jonk, seker nie ouer as 20 jaar nie. Persone wat die mans gesien het beweer die mans is nie van daardie area nie. Een van die mans het na bewering Sotho gepraat.
Marisa het ander besighede gewaarsku om nie te gerus te wees nie, anders kan dieselfde noodlot hulle moontlik tref. Sy en haar familie is egter dankbaar dat niemand seergekry het tydens die rooftog nie.

ADVERTISEMENT:
