

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 June 2005
MUSINA – ‘n Voormalige burgemeester van die dorp, mnr. John Genis, is in die ouderdom van 71 jaar oorlede.
Mnr. Genis, een van die bekendste sakemanne van die dorp, was ook ‘n bekende in Suid-Afrikaanse rugbykringe. Hy was sedert 1972 ‘n munisipale raadslid van Musina en was ses keer tot burgemeester verkies. Hy was self ‘n kranige rugbyspeler en het later as voorsitter van Verre-Noord Rugby-unie gedien.
Mnr. Genis was veelsydig betrokke in die plaaslike gemeenskap en was sedert 1969 vir jare voorsitter van die dorp se skoukomitee. As jong man het mnr. Genis hom by die onderneming Sheldon & Prinsloo as rekenmeester bekwaam. Op Musina het hy saam met ander lede van sy gesin die Cross Meule begin.
In 1973 is hy met Ina Vosloo getroud en die egpaar het ‘n eie boekhou-onderneming langs die poskantoor begin. Die egpaar het later ‘n plaas aangeskaf en was tot met mnr. Genis se dood gevestig op die plaas Povey, net wes van Musina.
Mnr. Genis was onlangs vir ‘n geruime tyd siek en is sowat vier weke gelede in die Unitas hospitaal opgeneem. Hy is op 7 Junie na ‘n ernstige operasie oorlede.
Die begrafnis was verlede Vrydag uit die N.G. Kerk op Musina. Wyle mnr. Genis laat sy vrou en vier kinders agter.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
