

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 June 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Vir die tweede keer in minder as drie jaar ontvang ‘n bekende gesin die verpletterende nuus dat een van hul kinders in ‘n motorongeluk gesterf het.
Die jong Coen Wolmarans (25) is op slag dood op Vrydag, 17 Junie. Dié tragiese nuus het die familie bereik terwyl Pa Coen en Ma Sonia vir die langnaweek by Ramsgate was. Die doel van dié besoek was om Sonia die geleentheid te gee om die toneel te besoek waar hulle jongste seun, Arnold, op 22 September 2002 verdrink en uitgespoel het. Voor hulle egter daarby kon uitkom, het hulle die skokoproep ontvang dat hul enigste oorlewende seun verongeluk het.
Die noodlottige ongeluk het tussen Viljoenskroon en Potchefstroom in die vroeë oggendure plaasgevind. Coen het die motor bestuur. Daar word vermoed dat hy aan die slaap geraak het of dat iets oor die pad gehardloop het. Daar was nie ‘n ander voertuig betrokke nie. Coen het klaarblyklik links van die pad afgegaan en probeer korrigeer, waarna die motor eers ‘n telefoonpaal en toe ‘n boom aan die bestuurder se kant getref het. Die enigste ander insittende, ‘n vriend van Coen, het harsingskudding en borsbeserings opgedoen.
Coen het in 1997 aan die Hoërskool Louis Trichardt matrikuleer waar hy ook lid van die leerlingraad was. Hy het aan die Potchefstroomse Universiteit in die handelsrigting studeer. Daarna was hy by PSG Konsultante werksaam voordat hy ‘n pos as finansiële konsultant by Standard Bank op Kroonstad aanvaar het. Voor die Wolmarans-gesin hulle in 1993 op Louis Trichardt kom vestig het, het hulle twee jaar in Kroonstad gewoon. Pa Coen is ‘n bekende afslaer van Vleissentraal en Sonia ‘n alombeminde onderwyseres in Engels by die plaaslike hoërskool.
Coen junior was lid van die hoërskool se heel eerste hokkiespan, toe seunshokkie by die skool ingestel is. Coen het vir Kroonstad se dorpshokkiespan gespeel en was by geleentheid ook gekies vir ‘n provinsiale span. Daarby het hy ook vir Kroonstad krieket gespeel. Sy liefde vir hokkie het hy gedeel met ‘n laerskoolspannetjie wat hy afgerig het.
Sy ouers sal Coen onthou as hul sonkind, die een met ‘n groot humorsin en altyd aan die gesels. Soos sy ma, kon jy hom ook altyd met ‘n Engelse boek in die hand kry.
Die drie kinders, Valeria, Coen en Arnold het ‘n baie nou band met mekaar gehad en Coen het baie gely na Arnold se dood. Hulle twee was saam met vakansie toe Arnold op twintigjarige ouderdom verdrink het.
Sus Valeria (27) het aangebied om Coen te gaan uitken na die motorongeluk en sy het ook saam met Pa Coen al die nodige sake op Kroonstad en Potchefstroom gaan afhandel. Valeria woon in Alberton en is ‘n rekenmeester aan die Rand.
Die twee broers sal dieselfde graf deel in die Louis Trichardt begraafplaas. Coen (gebore op 13 Julie 1979) was 25 jaar en elf maande vir sy gesin gespaar en is twee jaar en nege maande na sy broer oorlede.
“Ons is stomgeslaan, ons is sonder woorde,” sê Sonia.
Die hele gemeenskap treur saam met die gesin na hulle dubbele tragedie. Die begrafnis vind plaas op Vrydag, 24 Junie, om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk en die diens word gelei deur prof. Koos van Rooy.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
