

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 June 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – ‘n Begrafnis moes Maandag amper uitgestel word, nadat die munisipaliteit versuim het om betyds ‘n graf vir die diens voor te berei.
Benie Nel van National Legal Aid het verlede week Woensdagoggend met die munisipaliteit gereël en betaal vir ‘n graf, waarvan die koste sowat R443 beloop het. Sy het Vrydag weer die munisipaliteit geskakel om die bespreking te bevestig en ‘n grafnommer te kry. Die dame met wie sy gepraat het, het op haar beurt bevestig dat die nodige reeds gedoen is.
Maandag om 10:00, te midde van die besigtiging en laaste begrafnisreëlings, is gevind dat daar nog geen graf gegrawe is nie. Benie het die munisipaliteit geskakel en het met dieselfde dame gepraat wat vir haar Vrydag gesê het dat alles reëling in orde is. Benie het vir haar gevra hoekom daar nog geen graf voorberei is nie en weer die grafnommer bevestig. Hierop moes sy hoor dat geen graf nog gegrawe is nie omdat die munisipale slootgrawer gebreek het.
Met die begin van die begrafnisdiens wat al vinniger en vinniger nader gesnel het, het Benie die Raad opdrag gegee dat die graf voor 11:00 gegrawe moes word, anders sou die munisipaliteit aanspreeklik gehou word vir hul swak diens. Intussen het sy ook uitgevind by ‘n ander dame dat daar aanvanklik vir haar ‘n verkeerde grafnommer gegee is en die korrekte grafnommer is toe eers vir haar gegee.
‘n Werknemer by die munisipaliteit, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het bevestig dat hulle ‘n probleem ondervind het met die grawe van die graf, maar dat die aangeleentheid buite die munisipaliteit se beheer was. ‘n Slootgrawer is verlede week vanaf ‘n ander gebied laat kom, maar weens die publieke vakansiedag op 16 Junie is daar eers Vrydag agtergekom dat die slootgrawer nie in ‘n werkende toestand is nie. Hulle het dit blykbaar net voor die begrafnisdiens begin het aan die gang gekry.
Mnr. Masindi Mapholi, die munisipaliteit se Direkteur: Tegniese Dienste, het na afloop van die insident gesê dat die munisipaliteit net twee slootgrawers het en dat beide al baie oud is. Hy het bygevoeg dat een van die twee in elk geval stukkend is, maar dat die munisipaliteit twee nuwe slootgrawers gaan aankoop. Hy het om verskoning gevra vir die ongerief wat veroorsaak is.

ADVERTISEMENT:
