

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 July 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Johann en Melinda du Plessis, ook bekend as Johann Koerant en Ma Melinda, groet na twintig en ‘n half jaar die streek en vertrek na die Weskaap met ‘n geruste hart, deels omdat hulle breinkind, die Zoutpansberger, in die “kinders” se goeie hande is.
Baie mense ken al die geskiedenis van hoe die Zoutpansberger gebore is vanuit Johann se karavaan in 1985. Sowat vyf jaar later, in 1990, is die eerste Mirror gedruk waarna die twee koerante gegroei het om ‘n onlosmaaklike deel van die streek en sy mense te vorm.
Nog vyf jaar later, in 1995, het Johann en sy span die huidige perseel betrek nadat dit van ‘n woonhuis omskep is na kantoorspasie. In daardie stadium is die hele proses van insameling van nuus, advertensieuitleg, bladuitleg en die druk van die koerant alles op een perseel gedoen. In 2000 het Johann die koerant aan Anton van Zyl verkoop.
Vir Johann was dit belangrik dat Melinda altyd aan sy sy was. Melinda kon alles doen, van advertensies opmaak, blaaie opmaak tot salarisse uitbetaal.
Almal by die koerant was Johann en Melinda se “kinders.”
“Ons het so ‘n band met almal daar opgebou. Ons is hartseer om almal agter te laat, maar ek weet dis die Here wat ons stuur. Die koerant en die drukkery is in die ‘kinders’ se goeie hande,” sê Melinda.
Dit is nie net by die koerant waar Johann en Melinda hegte bande gesmee het nie. Hulle het in die hele gemeenskap se harte ingekruip. Die afgelope paar jare was hulle baie aktief betrokke by die Rotariërs en Johann was President in die termyn 2003/4. Die werk vir die behoeftiges wat hulle daar kon verrig, het hulle na aan die hart gelê.
Nou het die tyd aangebreek om hulle groot vriendekring te groet.
“Ons kon nie by elkeen uitkom nie en groet almal; ons sê baie dankie aan die gemeenskap. Ons deur op Kleinmond staan altyd oop,” sê Johann en Melinda.
Op Kleinmond gaan Johann (58) nie aftree nie.
“Ek gaan om te werk: ek het weer ‘n nuwe uitdaging nodig,” sê Johann. Hy wil nog nie die aap uit die mou laat oor wat hy gaan doen nie, maar het darem laat val dat dit in dieselfde lyn as sy stokperdjie sal wees. Johann se liefde is videofotografie en die redigering en versorging daarvan.
Johann en Melinda se oudste dogter, Tanya (33), is in Johannesburg werksaam en die jongste, Janine (30), gaan ‘n oorplasing Kaap toe kry.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
