

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 July 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die ernstige probleem van onregmatige arrestasies en aanhoudings deur die polisie in Limpopo is vandeesweek dringend op hoë vlak aangemeld.
‘n Waarskuwing is gerig dat onregmatige optrede nie geduld sal word nie, maar konsekwent met die volle gesag van die wet beveg sal word.
Dit volg op die opsienbarende voorval waarin ‘n Britse onderdaan, mnr. Gordon Spence, op ‘n plaas naby die dorp in hegtenis geneem en in die polisieselle toegesluit is. Hy is in hegtenis geneem nadat hulp ontbied is om hom te beskerm teen ‘n fisiese aanval deur ‘n vermeende indringer in sy woonplek.
Dringende aandag en optrede oor die aangeleentheid word versoek in ‘n brief wat die Soutpansberg Distriks Landbou-unie (DLU) aan die Nasionale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gefaks het.
Uit verskeie ander oorde in die plaaslike gemeenskap is vanoor alle rassegrense ontstoke reaksie op die voorval ontvang. Drastiese ingryping word gevra om ‘n voortsetting van die misbruik van arrestasies, veral teenoor weerlose lede van die gemeenskap, te voorkom en met die volle gesag van die wet te konfronteer en te straf en dat polisiebeamptes wat buite die gesag van die wet optree, desnoods self in hegtenis geneem behoort te word. Die beskikbaarheid van regshulp aan slagoffers soos ongeletterde of werklose volwassenes en minderjarige kinders, geniet dringende voorrang in die gemeenskapsgesprekvoering. Uit die gesprekke is dit duidelik dat die gemeenskap ervaar dat sekere lede van die polisie besig is om heeltemal buite beheer te raak en gekorrigeer moet word.
In die brief van die Soutpansberg DLU word Nasionale Kommissaris Selebi meegedeel dat die willekeurige misbruik van arrestasies en die onverskillige hantering van gearresteerdes, wat willens en wetens aan sodomisering en verkragting in die selle uitgelewer word, heeltemal onaanvaarbaar is en dat die gemeenskap voortaan alles in hul vermoë sal doen om dit te voorkom.
Die waarskuwing word op rekord geplaas, nadat met waardering kennis geneem is van die kommissaris se standpuntinname in ‘n memorandum wat in Mei vanjaar uitgereik is.
Vandeesweek se brief verwys na verskeie vorige skrywes wat sedert Junie 2002 in verband met onwettige/onregmatige arrestasies en aanhoudings gerig is.
Toe Assistant Kommissaris M. J. Maepa, die Polisie se Area Kommissaris vir die Vhembe-streek, vandeesweek genader is vir sy kommentaar oor die Spence voorval, het hy na vier ure verlede week se polisieverklaring van die insident weer deurgefaks na die nuuskantoor. Nadat hy daarop gewys is dat hy om sy kommentaar genader is, wou hy weet waaroor hy moes kommentaar lewer. Hy is versoek om kommentaar te lewer op die polisie se optrede soos weerspieël in verlede week se berig in die Zoutpansberger en veral oor die die feit dat Spence na bewering onregmatig in die polisieselle toegesluit is, asook oor die reaksie van die polisieman aan diens toe hy telefonies deur Spence se regsverteenwoordiger versoek is om Spence, weens die onaanvaarbare dreigemente in die sel, na ‘n veiliger sel te verskuif.
Maepa het gesê hy glo nie die bewering nie. Gevra of ‘n amptelike ondersoek aan die gang is om vas te stel wat werklik daar gebeur het, het hy gesê so ‘n ondersoek kan net gelas word na ‘n skriftelike beswaar deur die betrokke aangehoudene ontvang is. Oor die aanhouding in die polisieselle het hy aangedui dat dit heeltemal in orde kan wees, afhangende van die omstandighede.
Oor die reeks voorvalle sedert 2002 waarin klaers in hegtenis geneem is, nadat hulle hulle hul eiendom en eie veiligheid probeer beskerm het teen aanvallers, het Maepa gesê as ‘n lys van sulke voorvalle aan hom voorgelê word, hy dit sal ondersoek. Op ‘n vraag of hy heeltemal onbewus is van die omstrede Viviers-saak by Vivo waarin ‘n vloot polisievoertuie en personeel vanaf Maepe se kantoor in Thohoyandou losgelaat is op ‘n onskuldige man en die voorval by Waterpoort waar die plaaseienaar in hegtenis geneem is toe sy honde rowers verjaag het wat besig was om in te breek en te steel by die bediendekwartiere, het hy die vraag ontwyk en die telefoon met ‘n hoflike groet neergesit.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
