ADVERTISEMENT:

 

Me. Faith Muthambi

Bedrogsaak teen Munisipale Bestuurder teruggetrek

 

News  Date: 08 July 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die saak van bedrog teen die dorp se munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, is Maandag in die plaaslike landdroshof teruggetrek.

Me. Muthambi is op 26 Mei op klagte van bedrog gearresteer en is na haar verskyning in die hof op R2 000 borg vrygelaat. Die klagte het verband gehou met die beweerde privaat verkoop van ‘n luukse voertuig, terwyl dit nog die Raad se eiendom was.

Me. Muthambi het van meet af haar onskuld bepleit en gesê dat die klagte teen haar geen meriete het nie. Maandag is die saak teen haar teruggetrek. Een element van bedrog is dat daar moet bewys word dat ‘n wanvoorstelling gemaak is. In dié geval kon geen sulke bewys ten opsigte van enige wanvoorstelling gevind word nie, aangesien die Raad klaarblyklik bewus was van die transaksie ten opsigte van die verkoop van die voertuig.

“Ek het mos gesê dit is niks ander as ‘n heksejag teen my nie. Ek is bly die waarheid het uitgekom,” het me. Muthambi Woensdag opgemerk. Sy het ook weereens genoem dat die klagte teen haar gebring is deur elemente wat haar gesag wil ondermyn. In dieselfde asem het sy verwys na die ondersoek na beweerde ongerymdhede in die Raad wat reeds tot die afdanking en skorsings van talle senior amptenare gelei het. Me. Muthambi het gesê dat sy nooit haar fokus verloor het nie en dat sy sal voortgaan met die identifisering van persone wat hul skuldig maak aan ongewenste gedrag.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines