ADVERTISEMENT:

 

Man in skouer geskiet na padwoede-insident

 

News  Date: 08 July 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die Direkteur van Openbare Vervolging sal moet beslis oor wie vervolg moet word na ‘n skietvoorval by die N1/Songozwistraat-kruising vroeg Saterdagoggend waarin een persoon gewond is.

Volgens insp. Daniel Ndlovu, woordvoerder van die plaaslike SAPD, het ‘n bewaarder van die plaaslike Departement Korrektiewe Dienste omstreeks 00:30 in die rigting van die N1 in Songozwistraat gery. By die N1-kruising aangekom het hy regs gedraai in die rigting van Eltivillas. Agter hom was daar ‘n voertuig wat aanhoudend vir hom ligte geflits het. Aanvanklik, sê insp. Ndlovu, het die bewaarder die flitsende ligte geïgnoreer, maar het kort nadat hy gedraai het aan die linkerkant van die pad gestop. Die agterste voertuig het verbygery en voor die bewaarder se voertuig tot stilstand gekom. Twee mans het uit die voorste voertuig uitgeklim en nader gestap, terwyl die bewaarder sy venster afgedraai het.

Volgens insp. Ndlovu het een van die twee mans die bewaarder aan sy keel gegryp en hom rassistiese opmerkings toegesnou oor die wyse waarop hy bestuur. Kort daarna, sê insp. Ndlovu, het dieselfde man die bewaarder toegetakel, terwyl hy nog in sy voertuig gesit het.

Die bewaarder het na bewering sy aanvaller weggestamp, sy pistool uitgepluk en ‘n skoot op die twee mans geskiet. Een van die mans is in die skouer getref, waarna sy vriend hom dadelik hospitaal toe gejaag het vir mediese behandeling.

Insp. Ndlovu sê dat ‘n saak van poging tot moord deur die polisie teen die bewaarder geopen is, terwyl die bewaarder op sy beurt ‘n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer teen sy twee aanvallers gelê het. Niemand is in verband met die voorval gearresteer nie en die saak is na die Direkteur van Openbare Vervolging verwys vir beslissing.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines