ADVERTISEMENT:

 

Verteenwoordigers van Skills for Africa en Citrus SA het verlede week op Alicedale die vordering met nuwe bouwerk vir die opleidingsentrum vir plaaswerkers besigtig. In die foto staan, van links, mnre. Frikkie van Niekerk (Operasionele Bestuurder) en Johan Potgieter (Besturende Direkteur van Skills for Africa), Peter Nicholson, en Gerrit Booyens (Hoof Uitvoerende Beampte van Citrus SA). In die agtergrond is ‘n gedeelte van die bouwerk.

Tshipise-lemoene na China uitgevoer

 

News  Date: 08 July 2005

 

TSHIPISE – Sitrus uit die Soutpansberg distrik het ‘n belangrike internasionale deurbraak vir Suid-Afrika besorg.

In ‘n beduidende deurbraak vir die plaaslike sitrusbedryf, voer Suid-Afrika vanjaar vir die heel eerste keer lemoene na China uit.

Die sitrusbedryf in die Limpopo Provinsie is verantwoordelik vir hierdie belangrike deurbraak en in die provinsie is dit die Soutpansbergdistrik wat hierin die voortou neem.

Die eerste besending Suid-Afrikaanse lemoene bestem vir die Chinese mark is vanaf die Alicedale-pakhuis in die Njelele-vallei versend. Dit word allerweë as ‘n aanduiding van die buitengewone gehalte van die produk, metodes en bestuurstegnieke op die betrokke plaas beskou.

Die hoof uitvoerende beampte van Citrus SA, mnr. Gerrit Booyens, het vandeesweek bevestig dat die uitvoere na China van kardinale belang is. Dit is ‘n beduidende deurbraak vir die Suid-Afrikaanse bedryf en ‘n besondere prestasie, as die strawwe Chinese protokol vir die invoer van vrugte in aanmerking geneem word.

“China se nuwe protokol is die heel strafste vir die uitvoer van sitrus. ‘n Sitrusboord kan net vir uitvoere na China geregistreer word as daar bewys gelewer kan word dat die boord vir ‘n bepaalde tyd vooraf heeltemal vry van vals kodlingmot was. Dit is ‘n bykans onmoontlike strawwe voorvereiste. Alicedale is een van net ‘n handjievol boorde wat daarin kon slaag om aan hierdie vereiste te voldoen.”

Mnr. Booyens sê met die groterwordende Suid-Afrikaanse oes is dit van die uiterste belang om nuwe markte vir die Suid-Afrikaanse produk te vind. Die Chinese mark is ‘n hoë-premie mark weens die geweldige toename in daardie land se binnelandse verbruikersvraag. Die Suid-Afrikaanse toetrede tot hierdie belangrike nuwe mark het ook ‘n voordelige invloed op die tradisionele markte.

Hoewel China self een van die grootste sitrusprodusente ter wêreld is, is die land ‘n netto invoerder, omdat hy sy totale eie produksie binnelands verbruik. Suid-Afrika is in die gunstige posisie dat sy sitrusoes kontra-siklies is met dié in China (Suid-Afrika se lemoene word ryp wanneer China nie meer lemoene het nie).

Die Hoofbestuurder: Internasionale Operasies van Trade and Investment Limpopo (TIL), mnr. Manabile Shogole, het verlede week op Alicedale die pakhuisbestuur en werkers gelukgewens met hul prestasie. Die TIL fokus op uitvoere en is gemoeid by die identifisering van moontlike uitvoerprodukte en geskikte uitvoermarkte.

Mnr. Joe Mathebula, die hoof uitvoerende beampte van TIL, tesame met me. Luisa Green, TIL se Bestuurder: Internasionale Handel, was by die geleentheid behulpsaam met die oorhandiging van sertifikate aan sitrusstudente van Alicedale, wat ‘n verskeidenheid opleidingskursusse met welslae voltooi het. Die kursusse sluit in basiese geletterdheid, sitrusgradering en -sortering, sitrusverpakking, beroepsveiligheid en gesondheid en ‘n kursus vir korporatiewe drywers. Die kursusse bied toegang tot ‘n uiteindelike Meester Sitrusprodusente Diploma.

Die moderne Alicedale pakhuis se sitruswerkers word spesiaal opgelei vir hul verskillende spesialis take in ‘n opleidingsfasiliteit wat op die plaas ingerig is, maar ook vir die hele omgewing beskikbaar is. Die opleidingsentrum staan bekend as die Pieter Nicholson-opleidingsentrum. Dit is vernoem na die vader van die huidige eienaar van Alicedale Estate, mnr. Peter Nicholson. Mnr. Peter Nicholson (snr.) was in lewe die eerste landbouvoorligtingsbeampte noord van die Zoutpansberg en was ook vir jare Direkteur van Bantoe Onderwys in Natal.

Alicedale Estate het 450 hektaar onder sitrus en ook 120 hektaar tamaties en beskik oor 1 200 werkers. Benewens die Chinese deurbraak, voer Alicedale reeds al ‘n geruime tyd sitrusvrugte na verskeie lande in Europa en na Kanada uit.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines