ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Alec Nel van die plaas Bankop Ranch staan langs die reusagtige bruin hiëna wat gevang is nadat twee kalwers op die plaas prooi geword het van die roofdier.

Bruin hiëna maak amok op plaas

 

News  Date: 08 July 2005

 

BANDELIERKOP - Kopkrappery oor veeverliese en die stel van ‘n vanghok het verlede Dinsdag gelei tot ‘n skaars vonds op die plaas Bankop Ranch.

Nadat daar op die karkas afgekom is van ‘n kalf wat deur iets verskeur is, het mnr. Alec Nel, wat die plaas vir mnr. Piet le Roux bestuur, ‘n vanghok in die veld gaan stel.

Alec het eers vermoed dat dit dalk ‘n luiperd kon wees of selfs wilde honde, aangesien beide in dié area voorkom. Groot was Alec se verbasing egter toe die regte “kwaaddoener” ‘n tweede kalf vang. Toe weet Alec, dit is ‘n bruin hiëna.

“Ek het letterlik gesien hoe die bruin hiëna ‘n kalf vang en aan sy kop weg sleep.”

Alec het dadelik met die hoof van natuurbewaring, mnr. Tiny Sinden, ‘n reëling getref dat hy ‘n vanghok stel om die bruin hiëna te kan vang, wanneer hy dalk weer sou terugkeer vir nog so ‘n maklike ete. Alec sou hom dan aan natuurbewaring oorhandig vir loslating op ‘n natuurreservaat.

Die vanghok is reeds ‘n maand terug gestel, met ‘n karkas van ‘n dooie kalf as lokaas. Toe Alec vroeg verlede Woensdagoggend by die vanghok kom, was hy baie opgewonde om te sien dat ta in die hok was. Natuurbewaring het nog dieselfde dag hulle uitgehaas na die plaas om die bruin hiëna as vonds in ontvangs te neem. Die hiëna is met vanghok en al op ‘n bakkie gelaai, nadat die dierasie eers bietjie kalmeer is. Selfs die fotograaf het bietjie wyd gestaan van die reusagtige dier se “skerp kant.”

Volgens Tiny is die bruin hiëna volop in die omgewing. Hulle is aasdiere wat veral in die nag aktief is. Dit is klaarblyklik heeltemal buite hul natuur om lewendige prooi, en veral kalwers, te vang. Alec sê hy hoop dat hierdie optrede vir die mense van die gemeenskap sal wys dat boere nie net wilde diere skiet nie, maar ook wil bydra tot die bewaring van sulke diere, wat boere skade kan veroorsaak.

Die bruin hiëna sal na Letaba Ranch of Makuya Park geneem word. Daar sal dit vrygelaat word om ‘n nuwe lewe te begin. Volgens Tiny is dit egter nog nie duidelik watter een van die reservate die bruin hiëna sal kry nie. Totdat daar uitsluitsel hieroor gekry kan word, sal die bruin hiëna voorlopig by hom bly.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines