ADVERTISEMENT:

 

Brandblusser

Maak maar seker jou brandblusser is reg

 

News  Date: 15 October 2015

 

Dit is die klein dingetjies in die lewe wat saak maak, soos byvoorbeeld brandblussers.

Dit is vir sake- en huiseienaars van kardinale belang om seker te maak hul brandblussers word nie agterweë gelaat nie, juis omdat 'n brandblusser dikwels misgekyk word, tot die dag wat daar nood is.

Plaaslik is dit veral die nagaan en jaarlikse diens van brandblussers wat afgeskeep word. “Enige iemand kan ‘n nuwe brandblusser gaan koop, maar nie enige iemand kan sommer net ‘n brandblusser diens nie,” het ‘n plaaslike maatskappy wat brandblussers nagaan en versien hierdie week gesê. 

Inwoners moet toesien dat hulle nie om die bos gelei word deur ondernemings wat beweer hulle kan wetlik brandtoerusting diens en nagaan nie. Van hierdie ondernemings lok kliënte omdat hulle “diens” heelwat goedkoper is as dié van ‘n geregistreerde maatskappy. Gewoonlik gaan die ongeregistreerde maatskappy ‘n brandblusser nie goed na nie, plak ‘n nasienplakker op en vra dan geld daarvoor. Nie net kom dit neer op diefstal en bedrog nie, maar so ‘n “gedienste” brandblusser kan iemand se lewe of eiendom in gevaar stel.

Besighede wat probleme opdoen met ‘n brandblusser wat deur ‘n ongemagtigde diensverskaffer nagaan is, kan groot moeilikheid kry. Indien ‘n eiendom afbrand of ‘n blusser ontplof en iemand word beseer, sal daardie besigheid moet pa staan. Die diensverskaffermaatskappy (as hulle nog in die omgewing is) sal nie gedagvaar kan word nie, omdat hulle nie gemagtig was in die eerste plek nie. 

Brandblussers is gashouers wat deur die Departement van Arbeid (DvA) as ‘n veiligheidsproduk van kritieke belang geïdentifiseer wat lewens kan red. Daarom, in terme van die Wet op Beroepsgesondheid- en Veiligheid (Wet 85 van 1993), moet brandblussers elke tweede jaar aan ‘n druktoets onderwerp word en moet dit ook jaarliks getoets word vir roes aan die silinder. Die druk in die tenk moet ook getoets word om te bepaal of dit nog voldoende is.

Verder vereis die DvA dat ‘n brandblussermaatskappy moet voldoen aan al die regulasies soos uiteen gesit in die Wet op Standaarde (Wet 8 van 2008). In terme van dié regulasies moet ‘n diensverskaffermaatskappy ‘n SABS (Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde) sertifikaat hê met ‘n SAQCC-permitnommer wat die maatskappy elke twee jaar moet hernu.

Hierdie sertifikaat moet in die perseel van die maatskappy vertoon word vir kliënte om te sien, en die permitnommer moet ook aangebring word op die nasieningsplakker.

Indien inwoners enigsins twyfel oor ‘n diensverskaffermaatskappy kan hulle op www.saqccfire.co.za ‘n Internetsoek doen om te sien of die maatskappy geregistreer is.

Inwoners kan ook die Makhado Brandweerstasie kontak om ‘n verdagte diensverskaffer aan te meld. Hulle kan gekontak word by 015 5174.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines