ADVERTISEMENT:

 

Oom Danie Lourens en sy dogter Anne. Ná 61 jaar groet oom Danie Louis Trichardt en trek saam met Anne en haar man, Johan, hierdie week Zeerust toe.

Ná 61 jaar groet oom Danie die Soutpansberg

 

News  Date: 16 October 2015

 

Ná 61 jaar op Louis Trichard groet oom Danie Lourens die Soutpansberg om terug te keer na die Groot Marico-distrik waar hy in 1928 gebore is.

Voorwaar is oom Danie, ook bekend as oom Louwtjie, een van die Soutpansberg se meer kleurvolle karakters. Die Zoutpansberger het Woensdag, te midde van ‘n groot geskarrel om betyds die trek gepak te kry, by hom ‘n draai gaan maak. Hy trek saam met sy dogter Anne en dié se man Johan hierdie week Zeerust toe.

Met die intrapslag is dit duidelik dat oom Danie maar bietjie gemengde gevoelens het oor die groot skuif. Aan die een kant is hy opgewonde oor die nuwe lewensfase wat hy op die ryp ouderdom van 87 jaar betree, maar aan die ander kant, sê hy met tranerige oë, bly dit maar moeilik om afskeid te neem van “sy mense”.

Oom Danie het op 17 Junie 1954 as passer en draaier in Louis Trichardt kom wortelskiet nadat hy en sy vrou, tannie Kate, hul huis in Suidheuwels, Johannesburg, verkoop het. Die groot rede vir die skuif was sodat tannie Kate haar suster, wat ‘n invalide was, kon help versorg.

Vir die eerste paar maande was oom Danie egter werkloos, totdat hy op 1 Oktober 1954 by die plaaslike kragstasie begin werk het. Hy was presies 10 jaar en een maand hier werksaam, waarna hy op 2 November 1964 by die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie as verkeersbeampte begin het. “Daar het ek ‘n rekord opgestel dat ek, tot my aftrede as verkeersbeampte op 31 Julie 1993, slegs by een stasie gestasioneer was. As jy aangejaag het, het hulle jou vinnig die trekpas gegee. Ek het nie aangejaag nie en het selfs my eie familie aangekla as hulle oortree het,” lag oom Danie.

Dit is juis as verkeersbeampte wat baie inwoners oom Danie sal onthou. “Sover dit my werk aangegaan het, het ek ‘n belofte afgelê, so dan het jy net jou werk gedoen,” sê oom Danie. In dieselfde asem herleef hy talle staaltjies van sy jare as verkeersbeampte.

Oom Danie vertel van die man en vrou wat hy op die N1 voor Lalapanzi afgetrek het vir spoed. Die man het uit sy voertuig geklim en teruggestap na oom Danie en die lesing op die gatsometer bevraagteken. Oom Danie het toe voorgestel dat hy [die man] die gatsometer moet beman, terwyl oom Danie weer sal verbyry met die man se voertuig om sodoende die voertuig se spoedmeter te toets. Oom Danie het na die man se voertuig gestap en ingeklim. Die vrou het egter nie gesien dat dit nie haar man is wat in die voertuig klim nie. “Die volgende oomblik vra sy: 'So wat sê die ou bliksem!?'” lag oom Danie. Hy voeg by dat dit die vinnigste verkeerskaartjie was wat ooit betaal is, nadat almal die humor van die situasie besef het.

So ook het oom Danie nie omgegee hoe belangrik 'n persoon was wanneer hulle ‘n verkeersreël oortree het nie. Hy het self vir oud-minister Fanie Botha ‘n verkeerskaartjie vir spoed gegee. Ook sy dogter Anne, by wie hy nou bly, het in 1978 ‘n kaartjie van haar pa gekry omdat sy dubbel parkeer het voor die polisiestasie in Kroghstraat.

Buiten vir sy jare diens as verkeersbeampte, was oom Danie ook een van die pioniersfigure in plaaslike resiesduifgeledere. Hy het in 1959 aan sy eerste resiesduifwedvlug deelgeneem en was vir meer as vyf dekades aktief betrokke in die sportsoort, tot sy uittrede in September verlede jaar.

As kerkman het oom Danie ook baie gesag afgedwing en was hy vir 57 jaar kerkraadslid van die Hervormde Kerk Louis Trichardt-gemeente. “In hierdie 57 jaar kon ek slegs 10 kerkraadsvergadering nie bywoon nie,” sê oom Danie.

Buiten vir sy liefde vir sy werk, posduiwe en kerk, was Schoemansdal ook baie na aan oom Danie se hart, veral as lid van die feeskomitee en die reël van die jaarlikse Geloftefeesvieringe. Vir bykans ‘n dekade was dit elke jaar oom Danie se voorreg om ‘n ruiker op Van Warmelo se vrou se graf tydens Geloftedag op die Schoemansdal Feesterrein te lê. “Ek gaan Schoemansdal baie mis,” sê oom Danie.

Tannie Kate het oom Danie op 20 Desember 1988 ontval, slegs twee dae voor die egpaar se 37ste huweliksherdenking. Sy was 71 jaar oud. “Sy is op ons troudag van 22 Desember om 15:00 begrawe,” onthou oom Danie met groot hartseer.

Oom Danie was met tannie Kate se dood 11 jaar haar jongere. 'n Paar jaar ná haar dood het die liefde egter weer geblom en is oom Danie op 18 Julie 1992 met tannie Alice getroud. Ongelukkig het tannie Alice hom ook ontval, op 13 Augustus 2008. “Ons was bevoorreg om 16 gelukkige huweliksjare saam te kon gehad het,” sê oom Danie.

Vir die vriende en kennisse hier was oom Danie se woorde dit: “Baie, baie dankie aan Louis Trichardt en sy mense vir die tyd wat julle my gedra het.” Oom Danie het ook spesiaal dankie gesê aan sy huishulp, mnr. Michael Morokolo. Dié het op 1 April 1984 by hom begin werk en sou Donderdag ná 31 jaar se getroue diens sy laaste dag vir oom Danie werk. “Ek groet, maar dit is nie vir altyd nie,” sê oom Danie. Met trane in sy oë vertel hy van sy versoek aan sy dogter. “My dogter het my belowe dat ek eendag op Louis Trichardt begrawe sal word,” sê oom Danie.

(As laerskoolkind het ekself met oom Danie as verkeersbeampte in die middel tagtigerjare te doen gekry. Ek het met by fiets aan die verkeerde kant van Ruhstraat na Laerskool Soutpansberg gejaag vir sportoefening. Voor oom Danie se huis, op die hoek van Munnik- en Ruhstraat, het oom Danie met sy voertuig uitgetrek. Ek het uitgeswaai en myself te pletter geval op die teer. Tog het ek opgespring en probeer wegjaag vir die gereg. Agter die heining by Alpha-woonstelle in Kroghstraat het ek, nerfaf, gaan wegkruip. Oom Danie het my egter gesoek totdat hy my gekry het. Daar was maar min simpatie met my besering, net 'n goeie uittrap omdat ek die verkeersreëls oortree het. Alles reg, oom Danie, oom was reg en ek was verkeerd - Andries van Zyl, Nuusredakteur)

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines