

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 July 2005
THOHOYANDOU – Die gru-vonds van ‘n persoon se vinger in die middel van die pad het polisie hier die afgelope week laat kopkrap oor waar die res van die liggaam is.
Lede van die speurtak in Thohoyandou is verlede Vrydag (8ste) ontbied na ‘n toneel naby die Manini-begraafplaas. ‘n Voetganger wat verby die begraafplaas gestap het, het die vinger in die pad gewaar.
Kort na die polisie se aankoms op die toneel het hulle letterlik die vinger “vinger alleen” in die pad gevind. Aanvanklik het hulle bietjie kop gekrap oor hul gru-vonds. Was dit dalk ‘n muti-moord? Muti-moorde is tog nie onbekend in die streek nie. So onlangs as ‘n paar weke gelede is die verminkte lyk van ‘n vrou uit die Levuburivier gevis, nadat sy klaarblyklik vir muti-doeleindes opgesny is. Of, as dit nie ‘n muti-moord was nie, is die vinger dalk afkomstig vanaf ‘n lyk wie se oorskot by die begraafplaas uitgegrawe is in ‘n makabere geval van grafrowery?
‘n Ondersoek na die afkoms van die vinger is in alle erns begin. Daar is bevind dat die vinger deel was van die persoon se linker hand en dat dit die middelvinger is. Vingerafdruktoetse het ook geen resultate opgelewer nie en die vinger is later in ‘n lykshuis ingeboek - totdat die res van die “liggaam” opgespoor kon word.
Een van die ondersoekbeamptes het intussen by plaaslike hospitale begin omgaan en kan jy glo, daar spoor hy die “lyf” op aan wie die vinger behoort in die Tshilidzini Hospitaal. Dit was toe glad nie ‘n geval van ‘n muti-moord of een of ander duistere daad nie.
Die vinger het behoort aan ene mnr. Vusi Silindi wat in die hospitaal opgeneem is, nadat hy sy vinger verloor het in ‘n frats ongeluk. Mnr. Silindi se voertuig het blykbaar naby die Manini-begrafplaas onklaar geraak. Hy het uitgeklim om te probeer vasstel wat presies met sy voertuig verkeerd is. Dit is nie duidelik of hy alleen was tydens die voorval nie, maar wat wel duidelik is, is dat hy per ongeluk aan die voertuig se waaierband gevat het, terwyl die enjin geluier het. Die waaierband het sy vinger gegryp en dit afgeruk. Mnr. Silindi is toe sonder vinger inderhaas na die naaste hospitaal toe. Die ondersoekbeampte het gesê dat mnr. Silindi baie gelukkig was dat die waaierband nie sy hele hand afgeruk het nie.
Inligting dat die eienaar van die vinger lewend gevind is, het vir die lede van die Thohoyadou-speurtak as goeie nuus gekom. Groot was hul verligting dat dit nie nog ‘n moord-raaisel was wat hulle sou moes oplos nie. Ongelukkig vir mnr. Silindi was die vinger so erg “verweer” dat dit nie weer aangewerk kon word nie en sal hy maar sonder een vinger moet klaarkom.

ADVERTISEMENT:
