ADVERTISEMENT:

 

Hi-Cazz. Foto verskaf.

Misdaad buite beheer

 

News  Date: 19 October 2015

 

Te midde van ‘n toenemende vlaag van huisbrake en rooftogte is dit bykans ‘n onbegonne taak om kommentaar van die plaaslike polisie te kry.

Terwyl inwoners al hoe meer in vrees lewe, is die misdaaddebat tot op die spits gedryf met die aankondiging van twee plaaslike organisasies dat hulle voortaan hul kragte sal saamgesnoer en self inwoners sal beskerm. (Lees berig op p. 2).

Inwoners se vrese word verder aangevuur deur die polisie se klaarblyklike onwilligheid om te praat oor ‘n misdaadprobleem wat  inwoners by die dag druk tot by ‘n afgrond waar hulle die reg in eie hande sal neem. Verlede week het die Zoutpansberger juis berig oor ‘n keelvolle mnr. Dries van Schalkwyk wat gedreig het om die inbrekers wat al twee keer by sy seun se woning ingebreek het, “vrek te skiet.”

Daar is heelwat van die koerant se lesers wat sy siening deel. Dit is nie eens meer ‘n aardigheid om lesers te sien kommentaar lewer op misdaadstories wat gedeel word op die koerant se Facebook-blad oor wat hulle sal doen as ‘n inbreker hulle pad kruis nie. In Van Schalkwyk se geval is hy aangeraai om “die wetters in te wag en in hulle peetjie in te skiet”. Hy is selfs aangeraai om dalk ‘n paar slange aan te skaf om die diewe in te wag. Ander het hom sterkte toegewens en die hoop uitgespreek dat hy vinnig korte mette maak met die diewe.  

Louis Trichardt se sakemanne en politici het vandeesweek hul bekommernis uitgespreek oor die skielike toename in veral huisbrake. “Die probleem sal vinnig aangespreek moet word, en ons doen ‘n beroep op inwoners om meer paraat te wees,” het mnr. Brian du Plooy van die plaaslike DA (Demokratiese Alliansie) en media skakelbeampte van die Soutpansberg Sakekamer hierdie week gesê. Behalwe vir skade of lewensverlies is daar ook altyd die gevaar dat slagoffers krimineel vervolg kan word indien hulle geweld met geweld beantwoord.

Enige navrae by die Makhado Polisie om gevalle van inbraak of roof te bevestig, word oor die boeg gegooi van die moratorium wat daar is teen die uitreik van misdaadstatistieke. Die Zoutpansberger het oor die afgelope twee weke navrae by die plaaslike stasie ingedien nadat daar op 30 September verneem is dat die polisie sewe huisbrake ondersoek het, waarvan heelwat glo helder oordag gepleeg is.

Die daaropvolgende paar dae is daar nog gevalle onder die aandag van die koerant gebring. Op 1 Oktober is die Louis Trichardt Muurbalklub se watertenk weggedra. Die daaropvolgende dag het lede van die Ledig Plaaswag ‘n man gevang met vermoedelik gesteelde goedere in sy besit. Op Saterdag, 3 Oktober, is daar ingebreek by NB Feeds te Kleinstraat 51.  

Gesien in die lig daarvan dat die nasionale en plaaslike misdaadstatistieke in daardie tyd bekendgemaak is, is die polisie genader vir kommentaar op 6 Oktober.

Dit was eers toe die koerant die navraag opvolg dat die woordvoerder, konst. Irene Radzilane, bevestig het dat sy vanaf 5 tot 8 Oktober met siekverlof was. Dieselfde navrae is gerig aan die stasiebevelvoerder, kol. Francis Ramovha, in die hoop dat hy sou kon help in Radzilane se afwesigheid, maar tevergeefs. Ramovha het op 7 Oktober telefonies aan die koerant gesê hy verkies om nie kommentaar te lewer nie.  

Radzilane het met haar terugkeer hierdie week bevestig dat sy net gevalle kan bevestig waaroor die koerant navraag doen. As die koerant al die gevalle van huisbraak vir ‘n hele week wil bevestig of nagaan, word dit beskou as die uitreik van misdaadstatistieke. Volgens Radzilane is dit net die polisie se provinsiale mediakantoor wat ‘n hele week of maand se syfers bekend kan maak. Dit is net nie duidelik hoe die provinsiale kantoor hulle weg om die nasionale moratorium gaan vind nie.

Radzilane het verder gesê die inligting wat die koerant bekom het dat daar sewe huisbrake op 30 September was, is vals. Sy het gesê dat daar net drie inbrake was (twee by privaatwonings en een by 'n besigheid) en dat hulle in die dag gerapporteer is toe die klaers dit agtergekom het.

Radzilane het egter wel Woensdag bevestig dat ‘n plaaslike taakmag op die been gebring is om die erge probleem van misdaad in die dorp aan te spreek. Sy kon egter nie enige verdere besonderhede oor die taakmag gee nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines