

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 July 2005
POLOKWANE – Massiewe regsaksie dreig weens die Departement van Vervoer se rybewys fiasko.
‘n Dringende hofinterdik word voorberei om verreikende skadelike gevolge vir die betrokke lisensiehouers te probeer voorkom. Honderde het reeds regshulp gevra. Hulle word deur reuse finansiële verliese in die gesig gestaar.
Duisende inwoners van die Limpopo Provinsie is in ‘n krisis gedompel weens die Departement se verklaring dat hul rybewyse ongeldig is en hul rekords binne 21 dae na die skriftelike kennisgewing van die stelsel verwyder sal word. Nagenoeg 15 000 briewe is reeds uitgestuur om mense te verwittig dat hul rybewyse onregmatig uitgereik is en gevolglik ongeldig is. Die Departement dui aan dat die betrokke lisensies uitgereik is in stryd met die bepalings van die Padverkeers Wet 29 van 1989 en dat die lisensies vanaf die datum van uitreiking reeds nietig is in terme van Artikel 38 van die betrokke wet. Ook op Louis Trichardt het is daar motoriste wat hierdeur geraak word.
Regslui sê dié situasie het verreikende gevolge vir die betrokkenes. Dit bring mee dat hulle onmiddellik die gebruik van hul rybewyse moet staak. Mense wat hul sake bedryf met behulp van hul voertuig is onmiddellik al hul inkomste kwyt. Die wat die kans waag om voort te ry, loop skrikwekkende finansiële risiko’s as hulle in ‘n ongeluk betrokke sou raak. As ‘n voertuig sonder ‘n geldige rybewys bestuur is tydens ‘n ongeluk, sal die betrokkene se assuransie nie uitbetaal nie en sal die Padongelukkefonds alle geld wat aan slagoffers van die ongeluk uitbetaal moet word van die ongelisensieerde bestuurder kan eis. Sulke eise kan honderde duisende rand beloop.
‘n Regskundige van Polokwane, mnr.Philip Smit, het vandeesweek by navraag bevestig dat etlike honderde lisensiehouers reeds om regshulp aansoek gedoen het. Mnr. Smit is van mening dat die sogenaamde nietigverklaring van die betrokke lisensies, opsigself nietig is, aangesien dit gegrond word op ‘n wet wat reeds herroep en vervang is.
Volgens betroubare bronne spruit die lisensie fiasko uit lomp administratiewe verwarring met die hantering van die oogtoets-uitslae op die voorgeskrewe aansoekvorms. Van die oogtoetsuitslae is aanvanklik op kaarte aangebring, wat dan aan die aansoekvorms vasgeheg was en in die massa-hanteringsproses verlore geraak het. Op die ou aansoekvorms verskyn daar nie ‘n standaard klousule waar die uitslag van die oogtoets ingevul word nie. Die nuwe vorms maak wel daarvoor voorsiening. In sommige gevalle het die betrokke owerhede versuim om die korrekte nuwe aansoekvorms te gebruik en bloot die oogtoetsuitslag onderaan die vorm ingeskryf. Sommige van die beamptes wat die toetse moes afneem het gesê dat hulle nie in daardie stadium eers kennis gedra het van nuwe vorms wat gebruik moes word nie. Ander wat wel daarvan bewus was, het opdrag gekry dat hulle eers die ou vorms moes opgebruik.
Mnr. Smit sê elke landsburger het ‘n regmatige verwagting dat hy of sy ‘n regsgeldige lisensie ontvang het, veral as die standaard prosedure vir die aflê van die lisensietoets toegepas is en die persoon die vereiste fooi vir die lisensie betaal het. ‘n Administratiewe fout wat die owerheid begaan en waarvan die lisensiehouer nie bewus was nie, kan nie lei tot die penalisering van so ‘n persoon deur die owerheid nie. Hy sê die Departement het ‘n eensydige besluit geneem sonder om die gemeenregtelike reël toe te pas dat die ander party se saak eers aangehoor moet word voordat daar ‘n besluit teen die party geneem kan word. Daar is ook nie ag geslaan op die reëls van natuurlike geregtigheid nie.
Regstappe word nou reeds ingestel namens ‘n groot groep lede van die publiek teen die Departement van Vervoer, om die probleem van foutiewe nietigverklaring van lisensies te laat herstel.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
