

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 July 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Elke polisieman het ‘n statutêre en grondwetlike plig om misdaad te voorkom en die publiek te beskerm. Dit is onversoenbaar met die huidige gebruik om weerlose, meestal onskuldige, individue in oorvol selle uit te lewer aan die genade van geharde misdadigers.
Hierdie ferm standpunt is eenparig onderskryf tydens ‘n ontmoeting op hoë vlak tussen die TLU-SA en die SAPD in Limpopo.
Die ontmoeting het vandeesweek, op versoek van die TLU, by die Lalapanzi Hotel plaasgevind om die probleem van onregmatige arrestasies en aanhouding te bespreek.
Die voorsitter van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie, mnr. Gideon Meiring, het sy tevredenheid uitgespreek na die vergadering wat gehou is tussen die Soutpansberg DLU en Kommissaris Charles van Wyk, die Adjunk- Kommissaris van die SAPD in die Limpopo Provinsie. Die voorsitter van die TLU-SA Noordstreek, mnr. Dries Joubert, het gesê ‘n sinvolle gesprek is een van die maniere waarop die TLU probleme oplos. Hy sê die organisasie en die SAPD het as gevolg van die jongste gesprek nader aan mekaar beweeg.
Die vergadering is belê na aanleiding van ‘n skrywe deur die Soutpansberg DLU aan die Nasionale Kommissaris van die SAPD, Kommissaris Jackie Sellebi, op 27 Julie na aanleiding van die geval Spence, waar plaaslike lede van die SAPD weereens in stryd met amptelike beleid opgetree het.
Mnr. Meiring het sy tevredenheid uitgespreek met die versekering van Kommissaris Van Wyk dat die memorandum teen onregmatige arrestasies wel met alle stasiebevelvoerders bespreek is en dat die regsafdeling van die SAPD besig is met ‘n proses om die memorandum aan alle lede op stasievlak te verduidelik. Kommissaris Van Wyk het ook sy dank teenoor die vergadering uitgespreek en gesê die SAPD is ernstig om sy dienste te verbeter en om magsmisbruik uit te roei. Hy het gesê hy is self 24 uur per dag regdeur die week beskikbaar om persoonlik tussenbeide te tree waar nodig. Hy het die versekering gegee dat hy sy kant sal bring om die vertroue tussen die gemeenskap en die SAPD te herstel en in stand te hou. Hy het die vergadering versoek om alle gevalle van arrogante, onprofessionele magsmisbruik dadelik aan te meld. Dit is van die opperste belang dat sulke sake so gou as moontlik opgevolg moet word.
Kommissaris Van Wyk het erns getoon om toekomstige insidente van die aard te voorkom en het verduidelik dat die SAPD reeds besig is om lede te skool om beter diskresie te gebruik, om lede persoonlik aanspreeklik te hou vir misstappe en wandade en vir die betaling van skadevergoeding.
Op die vergadering is die Spence-voorval en ook die jongste voorval, waarin mnr. Willie Ferreira van Tom Bourke onregmatig in hegtenis geneem is, uitvoerig bespreek.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
