ADVERTISEMENT:

 

Generic image

So kan lesers hoë munispale rekeninge baasraak

 

News  Date: 24 October 2015

 

So kan lesers hul eie elektrisiteitsrekening baasraak!

Dit is belangrik om kalm te bly as jy ‘n buitensporige rekening ontvang - hoë bloeddruk is nie goed vir jou gesondheid nie en netnou kom daar ‘n vet doktersrekening.

Eerstens, gaan kyk of die meterlesing reg gelees is en reg aangedui is op jou rekening.

‘n Goeie praktyk is om elke maand op ‘n vasgestelde tyd self boek te hou van jou meterlesing. Die beste is om by die meterlesingmaatskappy uit te vind wanneer hulle gewoonlik jou huis se lesing kom neem en dan dieselfde te doen. As jy nie bedags tuis is nie, maak ‘n reëling met jou huisbediende. Dit is nege uit tien keer waar foute met rekeninge insluip, en as inwoners hul eie rekord het van hul kragverbruik is dit vinnig om ‘n rekening uit te sorteer.

Deur boek te hou kan verrassings soos “regstellings” ná maande se skattings of “vingerfoute” voorkom word. Korrekte lesings sal ook gehef word teen die korrekte tarief op die glyskaal en nie 'n duurder tarief nie, wat dikwels die geval is waar ‘n meter vir ‘n maand oorgeslaan is. Vreemdelinge hoef dan ook nie jou eiendom te betree om die lesing te neem nie.

Moenie ou rekeninge weggooi nie. Dit is die maklikste manier om ‘n kragverbruik-patroon op te stel. Só ‘n patroon sal vinnig aandui of die meter foutief gelees is en of daar wyer gesoek moet word na ander probleme.

Deur rekord te hou sal inwoners ook maklik hul gemiddelde maandelikse verbruik kan uitwerk. In die geval waar ‘n rekening te hoog aangeslaan is, moet inwoners steeds hul gemiddelde maandelikse verbruik betaal. As ‘n rekening net onbetaald gelos word, terwyl daar ondersoek deur die munisipaliteit ingestel word, sal die krag afgesit word. Dit gaan dan nie saak maak wie die blaam dra vir die rekening nie, en aansluitingsfooie sal sonder uitsondering gehef word.

Indien die fout nie lê by die meter of meterlesing nie, is die laaste uitweg om ‘n dispuut te verklaar met die munisipaliteit. Inwoners kan self die bal aan die rol sit of gebruik maak van ‘n professionele elektrisiën wat die proses vir hulle sal hanteer teen ‘n fooi.

Die Makhado Munisipaliteit, wat verantwoordelik is vir die uitreiking van Louis Trichardt se elektrisiteitsrekening, maak gebruik van IPES-Utility Management Services (Pty) Ltd (UMS), ‘n onafhanklike maatskappy om die meterlesings te neem. UMS in Louis Trichardt kan gekontak word by 087 751 1245 om ‘n meterlesing deur te gee of te verifieer.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines