ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Buitensporige hoë rekeninge eindig in prokureursaksie

 

News  Date: 24 October 2015

 

‘n Egpaar van Louis Trichardt het besluit om, in stede van derduisende rande te betaal op ‘n buitensporige elektrisiteitsrekening, eerder ondersoek in te stel.

Fritz en Margie Botha van President Steynstraat se ondersoek het hulle egter nou genoop om die hulp van ‘n prokureur in te roep. “Ek soek antwoorde,” het Fritz gesê.

Hy en sy vrou het in Augustus vanjaar snuf in die neus gekry toe hulle ‘n munisipale elektrisiteitsrekening ontvang het ten bedrae van R13 492.33. Hulle het die vorige maand (Julie) se staat baie laat ontvang en toe ‘n geskatte bedrag van R3 000, wat hul rekening se gemiddeld gewoonlik is, betaal. Boonop is daar in Julie ook nuwe meters by hulle huis geïnstalleer. Ondersoek is ingestel by die munisipaliteit en Frits moes ‘n addisionele R208.96 op die R3 000 betaal - die res was foutief. Die rede vir die aanvanklike foutiewe rekening is nou nog nie op ‘n bevredigende wyse vir hulle opgeklaar nie.

September en Oktober se rekeninge van R6 761.22 en R30 355.17 onderskeidelik, was egter ‘n groter skok vir die egpaar.

Sedertdien het die egpaar die pad na die munisipale kantore al deurgetrap. In hierdie stadium wil dit voorkom of al hulle probleme voor die deur gelê kan word van die nuwe elektrisiteitmeters. Elke meter se verbruik word klaarblyklik saam opgetel om ‘n maand se totale verbruik uit te werk. Boonop het die nuwe meters nie begin meet op nul nie. Hulle nuwe meters se verbruik het onderskeidelik begin meet vanaf 421, 551 en 245.

Die Bothas se verbruik in Augustus van 1 755 eenhede was nog in lyn met hul gemiddelde gebruik van 1 800 eenhede per maand. September se verbruik word egter aangedui as 3 510 eenhede en Oktober is daar glo 14 112  eenhede gebruik.  

“Die [nuwe] meters is vinniger en neem die helfte van die normale tyd om ‘n eenheid te meet. Ons betaal vir dubbel die eenhede wat ons regtig gebruik teen die tariewe in die hoogste verbruikersblokke,” was Fritz se gevolgtrekking.

Fritz het verlede week gesê dat die munisipaliteit voet by stuk hou dat die nuwe meters nie verkeerd kan wees nie en dat sy warmwatertoestel (geyser) dalk stukkend is. “Dit los niks van my probleme op nie en verklaar ook nie die nodigheid vir drie meters nie,” het Fritz gesê.

Hy en sy vrou het verlede week ‘n plaaslike prokureur genader om te help briewe skryf aan die munisipaliteit. Die prokureur het hulle ook geadviseer om die hulp in te roep van ‘n professionele elektrisiën om te sien of die fout by die Bothas lê of die munisipaliteit se nuwe meters.  

“Ek kan nie aanvaar dat die ou meters foutief was en die munisipaliteit eintlik vir 15 jaar lank die helfte van my elektrisiteitsverbruik verniet aan my verskaf het nie. Die ou meter se lesings was realisties in vergelyking met die [huidige] kragverbruik van ander huishoudings,” het Fritz gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines