ADVERTISEMENT:

 

Seun fnuik plaasaanvallers, maar polisie glo nie storie nie

 

News  Date: 22 July 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Na ‘n nagmerrieondervinding met plaasaanvallers wat ‘n vyftienjarige seun van die omgewing na bewering beleef het, word sy trauma waarskynlik vererger deurdat die SAPD sy verklarings in twyfel trek.

Die seun, Frits du Toit, was op Donderdag, 14 Julie alleen op die plaas Brakspruit wat 20km buite Louis Trichardt, naby die Lugmagbasis Makhado, geleë is.

Twee gemaskerde aanvallers het die seun omstreeks 08:00 in ‘n stoorkamer op die plaas met toue vasgebind en hom met sy rug na die uitgang van die stoor geposisioneer. Hulle het petrol oor en om hom gegooi.

“Die petrol het die wêreld vol gelê,” het sy ouma, mev. Lampies du Toit, later gesê.

Frits kon nie agterkom watter taal die aanvallers besig nie.

“Hulle het niks gepraat nie,” het hy Dinsdag gesê. Hy kon nie sien of hulle ‘n vuurhoutjie trek nie, want hulle het agter hom gestaan. Vir een of ander duistere rede het die aanvallers daarna padgegee. Niks word vanaf die plaas vermis nie.

Frits het nie gewag om te kyk wat hulle volgende gaan doen nie en het sy knipmes uitgekry en die toue losgesny. Hy het deur die venster van die stoorkamer gespring en met die plaasmotorfiets dorp toe gejaag. Toe hy by sy ouma se werksperseel in die dorp aankom, was hy in ‘n geskokte toestand.

“Dit was ongeveer 09:00. Almal by die werk het gesien in watter toestand hy was,” sê mev. Du Toit.

Die polisie se reaksietyd was baie vinnig.

“Hulle het nog voor my by die plaas aangekom,” het sy mev. Du Toit gesê. Frits het ‘n polisieverklaring afgelê by ‘n polisiebeampte van Bandelierkop. Drie verklarings is afgeneem deur die SAPD Makhado.

“Teen die tyd dat die hondemeester daar aangekom het om spore te kry, het verskeie polisievoertuie al kruis en dwars oor die area gery,” sê mev. Du Toit.

Superintendent Ailwei Mushavhanamadi, Vhembe polisiewoordvoerder, het kort na die voorval verlede week aan die media gesê dat die seun baie dapper is en hom aan die televisieheld MacGyver laat dink. In daardie stadium is ‘n saak van poging tot moord ondersoek.

Teen Dinsdag het Mushavhanamadi egter gesê dat die kriminele ondersoek afgelas is, aangesien hulle die seun se verklarings in twyfel trek.

Die ontstelde familie het gesê dat die verklarings wat afgelê is, die waarheid is en dat ‘n kind nie oor so iets sal jok nie. Die familie voel dat die polisie hulle feite moet bewys en moet sê waarom hulle so sê.

“Ons gaan nou niks verder sê nie. Die polisie moet nou maar hulle storie vir die koerant sê,” het die familie gesê.

By verdere navraag het Supt Mashavhanamadi Woensdag gesê dat hulle besluit het om die ondersoek af te las, aangesien hulle as polisie geen aanduidings op die toneel kom vind wat kon aandui dat die voorval plaasgevind het nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines