

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 July 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die stank van verrottende dierkarkasse het die afgelope naweek groot ongerief veroorsaak vir ‘n inwoner in die omgewing van Blouberg Dierekliniek.
Dit moes toe ook nou so gebeur dat dit die naweek is waarop die inwoner kuiermense uit die voorwêreld ontvang het. Die klaer het begin wonder wat nou eintlik gebeur met daardie geliefde kat of hond wat uit nood deur die veearts uitgesit moet word.
“Hulle vertel altyd vir ons dat jou diertjie wat moet uitgesit word, netjies veras word. Maar daar lê die dooie diere en party bars al oop,” sê die klaer.
Een van die drie eienaars van Blouberg Dierekliniek, Dr. Willie Harris, het Dinsdag gesê dat dit die eerste keer in die 13 jaar is wat hulle daar praktiseer dat hulle klagtes ontvang. Dr. Harris sê dat die normale prosedure is dat hulle die munisipaliteit skakel as daar dooie diere is en dat die munisipaliteit die diere dan kom haal en veras. Die afgelope naweek was al drie eienaars egter weg. Die persone wat die praktyk beman het, het die munisipaliteit geskakel om die dooie diere te kom verwyder, maar het geen reaksie ontvang. Vrydag het daar twee dooie kalwers en twee dooie honde ingekom vir verwydering.
Die klaer het gesê dat hy baie ongelukkig voel oor die dierekarkasse wat oop op die sementblad agter die kliniek lê.
“Ons kon nie lewe in ons huis van die reuk nie. Ons besoekers het gevra wat so stink. Ek het baie baklei met die kliniek en die munisipaliteit. Saterdagmiddag het Alpheus van die munisipaliteit uiteindelik die vullislorrie uitgestuur.”
Mnr. Masindi Mapholi, Makhado Munisipaliteit se Direkteur: Tegniese Dienste, het Dinsdag gesê dat die afdeling wat vullis verwyder so pas na sy departement oorgeskuif is. Dit het gebeur nadat die Gesondheidsdepartement oorgeskuif het vanaf die plaaslike munisipaliteit na die Vhembe Distrik Munisipaliteit. Vullisverwydering en die skoonmaak van openbare plekke, met gesondheidsinspekteur mnr. Alpheus Nndwakhulu as bestuurder, val nou onder die departement van Tegniese Dienste. Mnr. Mapholi sê dat hy ten volle verskoning aanbied vir die ongerief en dat hy die saak sal ondersoek.
Blouberg Dierekliniek het intussen gesê dat die gesondheidsinspekteur hulle Dinsdag besoek het en geen fout kon vind nie. Hulle het bygevoeg dat diere-eienaars kan weet dat hul diere wat uitgesit word, wel gehaal en veras word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
