ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Plotbewoners sê hulle voel al meer onveilig

 

News  Date: 30 October 2015

 

Inwoners van die Vondeling-plotte leef in vrees ná die moord op Johan Oloefse (42) die afgelope naweek.

Die Zoutpansberger het Dinsdag gaan gesels met twee gesinne wat in die nabye omgewing woon.

Wendy en George Schempers was toe juis besig om die sekuriteitsmaatreëls binne in hul woning op te skerp. Met die koerant se besoek was hulle besig om swaar veiligheidshekke te installeer. “Ek is definitief bang dat ons volgende kan wees,” het Wendy geantwoord op ‘n vraag of hulle nog veilig voel in hul eie woning. Sy het verder gesê dat hulle planne om hul huis ‘n bietjie op te knap, vir nou opsy geskuif is sodat hulle die geld kan gebruik om eers hul sekuriteitmaatreëls op te skerp. “Ek soek nou diefwering buite my vensters ook ... daai tipe wat buite die venster teen die muur kom ... ek voel hierdie gewone diefwering is net nie meer goed genoeg nie,” het Wendy gesê.

Wendy is van mening dat die nabygeleë vullisterrein ‘n bydraende faktor is tot misdaad in die omgewing. “Daar word nie genoeg gedoen om ongewenste elemente daar weg te hou nie,” het sy gesê. Sy is van die mening dat die Makhado Munisipaliteit ook verantwoordelikheid moet neem vir dié mense wat in die aande daar rondhang en dit nie alleenlik die polisie se verantwoordelikheid moet maak nie. 

'n Plaaswerker van die Schemper-familie is in September vermoor op die plaas, vermoedelik vir sy salaris. 

Verderaan, langs die Vondelingpad, het die Malan-gesin ook nie die afgelope naweek se misdaadvlaag ontsnap nie. Hulle is Saterdagoggend vroeg wakker gemaak deur misdadigers wat 'n stoepvenster uitgeslaan het. Die booswig(te) het genadiglik die hasepad gekies toe hulle sien die huismense is wakker. (Sien tydlyn van die naweek se aangemelde misdaadgevalle op p. 3).

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines