ADVERTISEMENT:

 

Oorgrensparke hou gevare in

 

News  Date: 22 July 2005

 

POLOKWANE – Mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU-SA Noordstreek, het die LUR van Omgewingsake en Toerisme versoek om deeglike navorsing te doen voor oorgrens parke oorweeg word.

Joubert het gewaarsku dat die gebrek aan heinings en die verlies van vee- en wildbeheer tussen internasionale state groot verliese in die Limpopo Provinsie kan teweegbring. Hy het bygevoeg dat, indien die heinings beskadig word, die huidige beheerde sones in gedrang sal kom. Die verskuiwing van heinings sal alle vooraf buffersones raak en het die potensiaal om ‘n groot negatiewe ekonomiese impak op grondeienaars en kommunale gebiede te hê wat naby die grense ‘n bestaan probeer maak.

Joubert het vir die LUR gevra of hulle in staat sal wees om goeie beheer uit te oefen tussen die parke en naasliggende gebiede in veral Zimbabwe en Mosambiek. Hy het verwys na probleme tussen die Nasionale Kruger Park en Letaba Ranch waar die heining blykbaar alreeds verval het. Hy het gesê dat, indien heinings nie instand gehou word nie en beheer in en uit die parke nie gewaarborg kan word nie, dit onmoontlike gesondheids- en ekonomiese probleme vir die Limpopo Provinsie sal inhou.

Joubert het gewaarsku dat dier-tot-dier en dier-tot-mens oordraagbare siektes soos bek-en-klou-seer, miltsiekte en slaapsiekte ‘n wesenlike probleem gaan word vir Suid-Afrikaners as die internasionale grensdrade sonder enige voorsorgmaatreëls verwyder word. Hy het ‘n ernstige beroep gedoen op die LUR om seker te maak dat eerlike navorsing en impakstudies gedoen sal word, voordat die grense finaal oopgestel gaan word. Joubert sê dat politieke ideologie nie die Suid-Afrikaanse burgers teen siektes sal kan beskerm wat nie die ideologie of grense ken nie. Hy het gesê dat die TLU-SA Noordstreek nie teen oorgrensparke gekant is nie, maar dat alle ekonomiese en praktiese implikasies eers deeglik nagevors moet word.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines