

ADVERTISEMENT:

Generic image
News Date: 30 October 2015
Inwoners is wreed ontnugter deur die nuus van die sinnelose moord op die 42-jarige Johan Oloefse.
Lede van die plaaslike plaaswagte en Soutpansberg Dorpswag het met dié voorval hulle kragte saamgespan en gehelp om twee verdagtes aan te keer in verband met Oloefse se moord.
Die voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, mnr. Anton Peyper, het by navraag met groot lof gepraat van die toewyding waarmee die Makhado Polisie die toneel benader het. “Hulle het saam met die plaaswagvoorsitters en lede van die dorpswag onverpoosd gewerk om te help soek na die gewapende aanvallers. Daar was mense wat deurnag gewerk het,” het Peyper geskryf in ‘n bedankingsbrief.
Hy het verder ook ‘n dringende beroep gedoen op die gemeenskap om vir Oloefse se vriendin, me. Miempie du Toit, en haar familie te ondersteun en by te staan in die moeilike tyd wat hulle nou moet deurmaak.
Verder het Peyper weereens ‘n beroep gedoen op inwoners om nie hul persoonlike veiligheid ligtelik op te neem nie. “Dit is nou tyd om te besef dat ons veiligheid afhang van ons eie betrokkenheid,” het Peyper gesê. “Daar is nie tans inligting wat daarop dui dat die groep [verdagtes] weer sal toeslaan nie, maar dis nie te sê ons kan ons waaksaamheid verslap nie. Ek wil ‘n baie ernstige beroep op ons mense doen om seker te maak dat hulle betrokke raak, en bly by hul plaas- en dorpswagte. Die samewerking van hierdie instansies met die polisie het die verskil gemaak dat meer mense nie seergekry het nie.”
Peyper het gevra dat inwoners aansluit by hul plaas- of dorpswag. Hy het ook gevra dat inwoners meer paraatheid aan die dag moet lê en mekaar se veiligheid belangrik ag.
“Ons sal almal saam moet werk,” het Peyper gesê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
