

ADVERTISEMENT:

Generic image
News Date: 30 October 2015
Die NG Kerk se Ringskommissie op Louis Trichardt het hulself verlede week sterk uitgespreek teen die standpunt wat die kerk se Algemene Sinode ingeneem het met betrekking tot selfdegeslagverhoudings.
In die verklaring wat deur die Uitgebreide Ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt uitgereik is, word die onlangse Sinodale besluit oor homoseksualiteit en die aanvaarding van die Belhar-belydenis skerp gekritiseer. Die kommissie oorweeg dit ook om aan te beveel dat gemeentes hul bydraes tot die sinode weerhou indien die teenstrydighede nie opgeklaar word nie.
Die Nederduitsch Gereformeerde Kerk se Algemene Sinode (AS) het op 9 Oktober onder meer besluit om erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag. Die besluit behels ook dat “hierdie verbintenisse deur predikante wat hul weg oopsien, bevestig kan word.”
Die plaaslike gemeentes se verteenwoordigers op die Ringskommissie het die sinode se besluit as “sondig” beskryf en dit vergelyk met die era toe die NG Kerk apartheid probeer regverdig het as gehoorsaamheid aan God. “Die AS is maar net weer besig om die nuwe staatsbestel Bybels te heilig en te regverdig as God se nuwe bestel vir sy kerk,” lees die verklaring.
Een van die knelpunte wat die Ringskommissie uitlig, is dat gemeentes nou self ‘n standpunt kan formuleer, wat sou beteken dat dit wat vir een gemeente sonde is, vir ander liefde reflekteer. “Verder, gemeentes wat dit as sonde glo, kan die praktyk van tug toepas en reël en ander gemeentes kan dit as gehoorsaamheid aanprys,” lees die verklaring. Volgens die verklaring sal die besluit van die Sinode gemeentes, asook die gemeenskaplike belang van die kerk, verdeel.
Die voorsitter van die Ringskommissie, ds. Petrus Kriel, het vroeër die week in ‘n onderhoud gesê dat hulle steeds alles moontlik doen om die kwessie binne die strukture van die kerk aan te spreek. “Hoe hanteer jy egter ‘n situasie waar die Sinode die verband verbreek het, maar ons wil die verband behou?” het hy gesê.
Die Ringskommissie vergader weer volgende Donderdag, 5 November, waartydens die onderwerp verder bespreek sal word. Die kommissie sal baie waarskynlik vra dat ‘n spesiale ringsitting gehou word. Verteenwoordigers van die sewe gemeentes in die Ring sal dan vergader om die pad vorentoe te bespreek.
Volgens ds. Kriel word die gevolge wat die sinodale besluit mag inhou vir gemeentes ook op streeksinodale vlak bespreek.
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
