ADVERTISEMENT:

 

Vrot reuk nie ons skuld, sê abattoir

 

News  Date: 30 April 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Bloed wat na bewering in Malherbestraat loop en 'n slegte reuk veroorsaak, was toe al die tyd nie bloed nie, maar rioolwater wat by die mangate uitstoot.

Louis Trichardt Abattoirs was een van die nywerhede in die omgewing wat dadelik verdink is as sondebok, maar die prosedure daar is van so 'n aard dat die geslagte diere se bloed nie in die rioolstelsel beland nie.

Mnr. Arie Steyn, algemene bestuurder van Louis Trichardt Abattoirs, sê dat dit die munisipale rioolstelsel wat geblokkeer is.

"Alhoewel die probleem buite ons erf is, rapporteer ons dit gereeld telefonies." Mnr. Steyn sê dat twee loodgieters kan bevestig dat die probleem nie aan die slagpale se kant lê nie.

Slagpale gebruik baie water en die rioolstelsel by so 'n nywerheid behoort voldoende daarvoor voorsiening te maak. Dieselfde terrein was voorheen die munisipale slagpale, wat in die begin negentigerjare geprivatiseer is.

Wanneer 'n bees keelaf gesny word, word hy leeggebloei, waarna die bloed uitgepomp en in 'n tenker weggery word. Baie water word gebruik om die karkasse en vloere te was. Mnr. Steyn het verduidelik dat van die drie persent vogwater wat die karkas verloor, ongeveer een persent bestaan uit bloed.

"Ons gebruik baie boorgatwater om alles te was. Die bietjie bloed aan die karkasse en op die vloere gaan saam met die water in die rioolstelsel in."

Om nie 'n verdere las op die rioolstelsel te plaas nie, ry Louis Trichardt Abattoirs die pensmis weg, terwyl abattoirs aan die Rand die mis in die rioolstelsel laat wegspoel.

Steyn sê dat die blokkering in die munisipale rioolstelsel die afgelope twee of drie maande baie probleme vir die abattoir skep. Munisipale loodgieters kom werk aan die pype en dan gaan dit soms beter, soms slegter. Syns insiens word die pype moontlik verkeerd gelas sodat dit obstruksies veroorsaak.

Die munisipaliteit se Direkteur Tegniese Dienste, mnr. Masindi Mpholi, het Woensdag te kenne gegee dat hy bewus is van die probleem en dat die munisipaliteit aan die klagte aandag sal skenk.

Terwyl die blaam heen en weer tussen die munisipaliteit en die nywerhede geskuif word, kan inwoners en verbygangers nie meer die stank in Malherbestraat verduur nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines