ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Alternatiewe krag kom teen ‘n prys

 

News  Date: 05 November 2015

 

Watter alternatief het inwoners as die ligte afgaan? Dit is die vraag wat die Bessinger-egpaar van Waterpoort daartoe gedwing het om na alternatiewe kragopwekking vir hul huis te kyk.

Ligte is sekerlik die eerste waaraan daar gedink word as dit kom by elektrisiteitsbesparing of ‘n kragonderbreking. Die probleem, het mnr. Ernst Bessinger gesê, strek egter wyer as bloot net om die ligte aan te hou.

As pensionarisse het Ernst en sy vrou vinnig besef hulle opsies om die altyd dreigende elektrisiteitskrisisse af te weer, plaaslik min tot weinig is. Boonop word beurtkrag so geskeduleer, sê Ernst, dat wanneer mense die meeste energie verbruik, die krag om die beurt afgesit word om energie te bespaar. Dan is daar die tye wat die toevoer afgesit word sodat onderhoud gedoen kan word - meestal in die dag. Dan is daar ‘n geval waar, vir kort tye, die kragtoevoer af en aan gaan as gevolg van oorskakeling van een toevoer na ‘n ander. Dis ‘n enorme probleem vir sensitiewe elektriese ware, wat hulle leeftyd drasties verminder met die aanskakeling van krag.

Die Bessinger-egpaar het in 2008 hulle eerste kragomsetter en battery aangeskaf, sodat hulle darem die ligte kon aanhou en ‘n bietjie televisie kon kyk. Hulle het vinnig besef dat dit slim sou wees om ook sommer na ander opsies te kyk wat sou help elektrisiteit spaar.

Dit het partykeer tande kners geverg want, verduidelik Ernst, in Louis Trichardt was die pryse vir toerusting nie net buitensporig hoog nie, dit was ook bykans onbekombaar. “Dit sou baie handig gewees het as iemand in Louis Trichardt kon help,” het Ernst gesê.

Danksy die Internet het hulle nou 24 uur per dag elektrisiteit - of die elektrisiteit nou af is en of dit bewolk is buite. Hulle omskakeling het hulle R35 000 gekos, maar kom teen ‘n 50% besparing.

Behalwe vir hulle eerste aankope, het die Bessingers ook ‘n hibridiese omskakelaar gekry wat 12 V elektrisiteit kan omsit in ‘n 230 V wisselstroom wat direk gekoppel is aan hulle skakelbord. “Dus werk alle krag in die huis normaal,” verduidelik Ernst.

Hierdie omskakelaar het ook ‘n ingeboude batterylaaier en ‘n ingeboude rekenaar waarmee ‘n mens onder andere die sonpanele kan beheer.  Ernst se stellings op die omskakelaars is dat dit eerstens staatmaak op die sonpanele se gestoorde krag om die batterye te laai. Hy wissel dan tussen Eskom- en batterykrag. “As die battery vol is, gebruik ons batterykrag, totdat dit gedaal het tot ‘n bepaalde punt en skakel dan oor na Eskom krag, en omgekeerd,” sê Ernst.

Verder beheer die omskakelaar se rekenaar die omskakelings, en hy loer net af en toe of alles nog in ‘n werkende toestand is. Volgens sy berekening sal ‘n mens nie heeltemal sonder Eskom elektrisiteit kan klaarkom nie, want dit sal net te duur wees (bykans R250 000).

“Maar vir ons inkomste het ons goed gedoen. Kan ons die kostes verhaal? Ons glo nie, maar die onkostes balanseer teen die ongerief, want ons leef soos voorheen – asof daar altyd krag beskikbaar is. En ons kry nie meer die opstuwings wat ons sensitiewe masjinerie beskadig nie,” het Ernst gesê.

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines