ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Minister se uitlating laat boere woedend

 

News  Date: 09 November 2015

 

TLU SA is erg ontsteld oor die Minister van Waterwese en Sanitasie, me. Nomvula Mokonyane, se ongeërgdheid oor die krisis wat boere in die huidige droogte in die gesig staar.

Volgens TLU SA se president, mnr. Louis Meintjies, is die minister se uitlating Sondag dat boere geen droogtehulp gaan ontvang nie en maar moet leer om aan te pas, uiters arrogant en uittartend.

Meintjies het aan die ander kant sy waardering uitgespreek teenoor die Nasionale Raad van Provinsies wat aanbeveel het dat die regering wel droogtehulp aan boere moet gee. TLU SA Noordstreek het reeds in Mei vanjaar ’n beroep op die LUK vir Landbou in Limpopo gedoen om dringend stappe te neem om droogtehulp in te stel. Veral veeboere wat op kommunale grond boer, word erg geraak.

“Opkomende en gevestigde tradisionele veeboere se weiding is uitgeput. Daar waar daar nog plek-plek bietjie weiding is, is dit onvoldoende en van lae voedingswaarde. Riviere, spruite, damme en boorgate het opgedroog. Ander boorgate droog een na die ander op. Kort-, medium- en langtermyn weervoorspellings dui daarop dat daar nie binne die afsienbare toekoms goeie reëns gaan wees nie. Die droogte is ook te wyte aan die feit dat daar vanaf verlede seisoen geen weiding 'oorgedra' is na die nuwe seisoen nie, aangesien die vorige reënseisoen ook vêr onder gemiddeld was. Die buitengewone hoë temperature het verder ’n versengende invloed,” het TLU SA Noord se streeksbestuur, mnr. Drickus Botha, gesê.

Volgens Botha is kommersiële veeboere en wildboere baie bekommerd oor die droogtetoestande en het reeds begin om kuddes te verminder. “Die swak vleispryse maak dit ook baie moeilik om onder hierdie omstandighede te oorleef. Staatshulp is nou broodnodig om die provinsiale kudde minstens te onderhou. Vleispryse gaan met die komende feesseisoen beslis hoër wees as verlede jaar en sal vir baie verbruikers onbekostigbaar raak,” het Botha gesê.

Wat Minister Mokonyane se uitlating betref, het Meintjies gesê dat sy haar moet hou by haar prioriteite, in plaas van opmerkings te maak buite haar portefeulje. Hy sê haar taak is om toe te sien dat daar kwaliteit en bruikbare water is vir die ekologie van die land, vir drinkwater, en vir landbou, sodat daar kos op almal se tafels kan wees. “Sekere water is egter deur haar departement se toedoen al so besoedel en onbruikbaar, dat dit selfs nie eens geskik is vir kragopwekking nie as gevolg van te veel soute daarin,” het Meintjes gesê.

Meintjies het gesê boere het klaar aangepas. “Hoe dink die Minister sou hulle dit anders reggekry het om al meer as drie eeue in hierdie land te bly boer? Dalk moet sy in dié opsig ook aandag gee aan die opkomende en bestaansboere. Hoe effektief is hulle watergebruik en tot welke mate het hulle al aangepas?” het Meintjies gesê. Hy het die hoop uitgespreek dat die regering ook sal aanpas, “as hulle besef dat dit die geval sal moet wees as daar nie meer kos nie, en gevolglik ook minder inkomste vir die Staat, gaan wees.”

 

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines