ADVERTISEMENT:

 

Mev. Daleen Cronjé (links) saam met haar man, Johan, by die beseerde klein Jaco.

"Dankie dat U hom vir ons gespaar het"

 

News  Date: 30 April 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - "Ons sê net dankie dat die Here hom gespaar het," het die verligte ouers van klein Jaco Cronjé vandeesweek gesê.

Jaco het merkwaardig ontkom nadat hy Maandagmiddag voor 'n voertuig beland het en erg beseer is.

Die 8-jarige seuntjie van mnr. Johan en mev. Daleen Cronjé het by die Voortrekkerterrein, aan die noordelike punt van Songozwistraat, tussen twee voertuie die straat probeer oorsteek na 'n maatjie aan die anderkant. Hy het voor 'n aankomende minibus taxi beland.

"Die minibus het betreklik stadig gery en dit het gelyk asof Jaco en die bestuurder mekaar 'n oomblik voor die ongeluk gesien het. Jaco het probeer stop en die bestuurder van die taxi het desperaat probeer uitswaai toe Jaco skielik tussen die twee voertuie uitgehardloop het," het 'n omstander gesê. Dit was egter te laat en onmoontlik om die botsing te vermy.

Volgens ooggetuies het Jaco onmiddellik na die ongeluk self opgestaan. Hy het veelvuldige skaafwonde aan sy lyf en arms opgedoen, asook wonde aan sy kop, en het erg gebloei.

Mnr. Gerhard Loubscher, wat op die toneel was, het Jaco onmiddellik in sy voertuig gehelp en na mediese hulp gebring. Nadat sy skaafwonde behandel is en die wonde aan sy voorkop en onder sy neus met steke geheg is, is hy oornag in die mediese kliniek vir observasie gehou. Woensdag was hy nog baie seer, maar tuis by sy ouers, waar hy in die bed aansterk. Hy is die oudste van drie kinders en 'n Graad 3-leerling by die Louis Trichardt Laerskool.

Sy ouers het vandeesweek waardering uitgespreek teenoor almal wat tydens en na die voorval sorgsaam en bedagsaam was. Hulle het met waardering melding gemaak van die optrede van die taxi-bestuurder, mnr. Tseisi van Tshitale, wat opsigtelik sy bes probeer het om die ongeluk te vermy. Hy het onmiddellik na die ongeluk meegehelp dat die polisie en hulp ontbied word. Mnr. Dirk Coetzee het geskakel en ook die ouers telefonies meegedeel van die ongeluk.

"Ons wil ook graag dankie sê aan dr. Anton Stroebel en sy personeel, en veral vir tannie Bonkie wat so mooi na Jaco gekyk het die nag in die kliniek en die Oosthuizen-gesin wat ons ander kinders help versorg het. Ons was baie bemoedig deur die PPK-pastoor wat ons bygestaan het en deur almal wat vir ons gebel en gebid het. Ook Jaco se maatjies wat vir hom kom kuier het."

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines