

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 July 2005
LEVUBU - Uiteindelik, na meer as vyf jaar, is finale koopkontrakte aan vrywillige verkopers van Levubugrond oorhandig.
Na die vergadering waarop die koopkontrakte oorhandig is, het die LUR vir Landbou, me. Dikeledi Magadzi, ‘n toer onderneem deur Levubu, wat bekendstaan as die vrugtespens van die land. Die uitdeel van 81 koopkontrakte het op Donderdag, 21 Julie, plaasgevind. Dit kom sowat vyf jaar na die proklamasie in die staatskoerant dat die grond onderhewig is aan grondeise.
Die algemene gevoel onder die verkopers word deur mnr. Paul Smit (snr.) beskryf as een van verligting na ‘n geweldige lang proses.
“Die vergadering het enduit rustig verloop. Niemand het gestry of uitgeloop nie en daar was geen haatdraendheid nie. Die vergadering is ook met toepaslike gebed geopen en afgesluit,” het mnr. Smit gesê.
Tydens die vergadering, waar die vrywillige verkopers se prokureurs teenwoordig was, het meer as 90% van die grondeienaars aangedui dat hulle gaan teken en die aanbod aanvaar. Die prokureurs wat teenwoordig was, kon die nodige klein wysigings op die kontrakte daar en dan aanbring. Die aanvaarde kontrakte moes dan teen Dinsdag, 26 Julie, die grondeisekantoor in Polokwane bereik.
Die pryse is volgens 2003 se waardasies aangebied. Mnr. Frans Prinsloo van Redbank Vrugteplaas, sê dat die eerste waardasies goed was, maar dat die tydsverloop ‘n negatiewe invloed gehad het.
“Twee jaar gelede was die waardasie van ‘n stukkie sitrusgrond in Levubu byvoorbeeld gelyk aan stirusgrond in die Weskaap. In die twee jaar het die grondpryse verdubbel, maar die waardasie van die Levubugrond is nie aangepas nie. Die boer kan dus nie sy grond vervang nie en is slegter af,” sê mnr. Prinsloo.
Die grondeienaars het ‘n inflasie-aanpassing van die grondeisekommissie gevra. Die kommissie het verduidelik dat die versoek terugverwys sou moes word en daar dan weer deur die hele proses gegaan sou moes word. Na ‘n proses van meer as vyf jaar het geen grondeienaar daarvoor kans gesien nie.
Daar is verskillende oorhandigingsdatums vir die vrywillige verkopers. Sommige se datums is voor Desember 2005 en ander s’n daarna. Verkopers vertrek in verskillende rigtings, sommige is nog onseker oor wat hulle gaan doen en ander gaan eers die oes afhaal. Daar is ook diegene wie se kinders eers skool moet voltooi en hulle was welkom om hulle reëlings daarvolgens te tref.
“Dit is bitter hartseer. Dit is die einde van ‘n gemeenskap wat al geslagte lank saam was. Maar ten minste was dit bloedloos. Ons moet eerlik wees: grondeise moet uitgesorteer word. Ons is gelukkig. Dit kon soos in Zimbabwe gewees het of soos jare tevore in Mosambiek en Angola,” het een boer gesê.
Mnr. Retief Redelinghuys (68) van die plaas Afsaal in die middelgedeelte van Levubu, boer al vir die afgelope 49 jaar op Levubu. Hy het gemengde gevoelens.
“My hart is seer, maar my kop sê dalk is dit reg. Daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan. My pa het die grond in 1949 gekoop en hier was nie ‘n pomp of ‘n draad nie. Ek boer al hier vandat ek klaar is met skool en in 49 jaar het ek nog nooit getrek nie. Nou moet ek hervestig. Maar ek het myself georiënteer en sit nie in sak en as nie. Daar is nog genoeg ander uitdagings wat vir my voorlê. Te danke aan die Vader is ek nog gesond,” sê Retief. Sy vrou, Marie, sê dat hulle nie weggaan uit die Soutpansberge nie, aangesien hulle gelukkig is om ‘n plaas agter die berg te hê.
Nie almal bly in die omgewing nie en daar is al boere wat hulle reeds in die Weskaap gevestig het. Kommer oor wat van een van die land se mees produktiewe boerdery-omgewings gaan word, is te verstane. Hierdie sub-tropiese gedeelte huisves vername produsente van piesangs, avokados, sitrus, koejawels, litchis, papajas en macadamia neute. Die macadamia en avokado oeste alleen verdien ten minste R200 miljoen per jaar, terwyl die totale inkomste van al die produkte sowat R500 miljoen beloop.
Mnr. Prinsloo sê dat, as die maatskappye wat strategiese vennote is, hulle werk goed doen, sal Levubu nog net so ‘n spens vir die land kan bly. Daar het 68 maatskappye getender om die strategiese vennote in Levubu te wees en twee maatskappye was suksesvol, een plaaslik en een van Letsitele. Daar is egter nog geen amptelike kontrakte met enige van die maatskappye onderteken nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
