ADVERTISEMENT:

 

"Munisipaliteit was nalatig"

 

News  Date: 29 July 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die eienaars en veeartse van die Blouberg Dierekliniek het gereageer op die klaer wat in verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger geïnsinueer het dat die karkasse van diere wat genadedood ontvang, nie behoorlik versorg word nie.

“Dit is ‘n ongegronde stelling en nie die waarheid nie,” het Dr. Willie Harris, woordvoerder van die dierekliniek gesê.

Die Dierekliniek het gesê dat hulle besig is met regstappe teen die persoon en dat hy geen bewyse het vir sy stelling nie. Hulle is bewus van die klaer se identiteit.

“Dit is die munisipaliteit se nalatigheid dat die diere nie Vrydag verwyder is nie. Saterdag is ‘n alternatiewe plan gemaak en die diere is verwyder,” sê Dr. Harris. Die kliniek het die munisipaliteit drie maal geskakel, sonder dat hulle opgedaag het.

Verder het die kliniek besluit om in die lig van wisselvallige munisipale dienste ‘n groot vrieskas aan te skaf. Die vrieskas kan karkasse van kleiner diere, soos honde, katte en lammers huisves.

Mnr. Masindi Mapholi, Makhado Munisipaliteit se Direkteur: Tegniese Dienste, het reeds verlede week verskoning aangebied vir die ongerief wat veroorsaak is toe die karkasse nie verwyder is nie. Die afdeling wat vullis verwyder en openbare plekke skoonhou, het onlangs na sy departement oorgeskuif. Dit het gebeur nadat die Gesondheidsdepartement oorgeplaas is vanaf die plaaslike munisipaliteit na die Vhembe Distrik Munisipaliteit..

Mnr. Mapholi het vandeesweek gesê dat veeartse hulle in kennis stel van dooie diere en dat die munisipaliteit dit moet verwyder en op behoorlike wyse daarvan ontslae raak. Mnr. Mapholi het gesê dat, in gevalle waar hulle in kennis gestel word van ‘n diagnose van aansteeklike of gevaarlike siektes, die karkasse veras word. Hy het gesê dat gewone karkasse begrawe word in ‘n gedeelte wat daarvoor voorberei is en geïsoleerd is van die gedeelte vir ander afval.

Die Makhado Munisipaliteit beskik oor drie vragmotors vir vullisverwydering en daar is voorsiening gemaak in die begroting vir die huidige finansiële jaar vir die aankoop van nog ‘n vragmotor vir dié doel. Die vragmotors en spanne vir vullisverwydering is elke dag aan die gang om vullis te verwyder in die residensiële, industriële en plattelandse gebiede van die munisipaliteit.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines