ADVERTISEMENT:

 

Stof lê nie oor rybewyse

 

News  Date: 29 July 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die reuse getal rybewyse wat nou in die Limpopo Provinsie as ongeldig beskou word, is in talle gevalle nie te wyte aan korrupte amptenare en omkopery deur die publiek nie, maar is die regstreekse gevolg van swak beheer en administrasie op hoë vlak in die departementele topstruktuur.

Hierdie mening word gehuldig na ‘n ontleding van die amptelike redes wat by navraag verstrek word vir die departement se dreigement om al die betrokke rybewyse summier te kanselleer. Die eienaars van die omstrede rybewyse word 21 dae gegun om die provinsiale owerheid te nader vir verdere inligting en moontlike appél. Duisende inwoners van die Limpopo Provinsie, waaronder talle ook in die Vhembe Distrik, is reeds skriftelik verwittig dat hul rybewyse ongeldig is, weens ongerymdheid met die uitreiking daarvan. Die “ongerymdheid” sluit weglatings en ander administratiewe foute in die voltooiing en hantering van aansoekvorms in.

‘n Landwye spesiale ondersoek na ongeldige rybewyse is uit die Limpopo Provinsie aangevoor en duisende briewe is reeds op sterkte van die bevindings van die ondersoek uitgestuur.

Regslui is van mening dat individuele motoriste wat in goeie trou die korrektheid van die prosedures aanvaar het, regtens nie gepenaliseer kan word vir amptelike administratiewe blapse in die hantering daarvan nie.

Motoriste wat geraak word deur die landwye rybewysfiasko, moet onverwyld volledige besonderhede aanvra oor die beweerde onregmatige uitreiking van hul rybewyse, sodat hulle kan appelleer.

‘n Woordvoerder van die plaaslike munisipale verkeersafdeling, mnr. Martin Luus, het vandeesweek by navraag gesê mense wat briewe van die provinsiale verkeersowerheid ontvang om hulle te verwittig van die ongeldigheid van hul rybewyse, moet die provinsiale kontakpersoon wat in die brief vermeld word onverwyld skakel en volledige besonderhede oor die beweerde onregmatige uitreiking van hul rybewyse aanvra. Die gegewens is baie belangrik as hulle teen die opskorting van hul rybewyse wil appelleer of regsadvies wil inwin.

Mnr. Luus het gesê die plaaslike munisipale kantoor nie met hierdie navrae kan behulpsaam wees nie, omdat al die tersaaklike dokumentasie sedert die begin van die ondersoek in die besit van die provinsiale owerheid is.

Talle plaaslike motoriste het reeds briewe ontvang waarin hulle ingelig word dat hul rybewyse ongeldig is en van die nasionale rekords verwyder gaan word. Hulle word in die brief 21 dae gegun om op die kennisgewing te reageer. Dit beteken 21 dae nadat hulle die briewe ontvang het.

Die redes vir die nietigverklaring van die rybewyse is belangrik. As die rybewyse ongeldig is weens administratiewe foute aan die kant van die betrokke departement, het dit beduidende regsimplikasies.

In advertensies erken ‘n ander departement (Binnelandse Sake) inmiddels foute met die uitreiking van identiteitsdokumente. Die departement vra amptelik om verskoning vir die foute en onderneem om dit gratis reg te stel. Waarnemers glo dat dit ook die benadering van die verkeersowerheid moet wees ten opsigte van rybewyse wat nou weens administratiewe foute as ongeldig beskou word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines