ADVERTISEMENT:

 

Lyke van drenkelinge uit Limpopo gehaal

 

News  Date: 30 April 2004

 

MUSINA – Die lyke van vyf mans, vermoedelik Zimbabwiërs wat onwettig die grens na Suid-Afrika probeer oorsteek het, is uit die Limpoporivier gehaal.

Duikers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is ingespan om die lyke te herwin, terwyl 'n polisiehelikopter behulpsaam was om die lyke uit die rivier op te hys.

Die polisie op Musina het met geregtelike doodsondersoeke begin na afloop van die omvattende herwinningsoperasie uit die rivier.

Die operasie het begin nadat die lyk van 'n 30-jarige man verlede Dinsdag omstreeks 14:00 in die rivier opgemerk is. 'n Span polisie duikers is onmiddellik ontbied om die liggaam te herwin. Omstreeks 17:00 op Woensdag (21 April) is nog vier verdrinkte mense se liggame aangetref.

Luidens 'n polisieverklaring het die vyf mans waarskynlik in die moeilikheid geraak terwyl hulle besig was om die vloedige Limpoporivier te probeer oorsteek. Die identiteit van die vyf mans kon nog nie vasgestel word nie.

Die ondersoek duur voort.

Etlike weke gelede is vier uit 'n groep van vyf Zimbabwiërs in 'n dramatiese reddingspoging uit die rivier gered, waar hulle vir etlike dae lank op 'n klip en op 'n eiland van opdrifsels vasgekeer was. Hulle is gered in 'n poging waaraan 'n lid van die publiek en verskeie lede van die SAPD sowel as weermag deelgeneem het. Een van hul makkers het vroeër onder die water in die rivier verdwyn. Die honger en erg geskokte mans het na die reddingsoperasie gesê hulle is deur die rivier meegesleur, terwyl hulle probeer het om Suid-Afrika te bereik om 'n hongerdood in Zimbabwe te ontkom.

Verlede jaar is 55 753 Zimbabwiërs wat die grens onwettige oorgesteek het, oor die Beitbrug grenspos na hul land teruggestuur.

Onder kerkgenootskappe in Suid-Afrika is daar toenemende konsensus dat vlugtelingstatus aan die Zimbabwiërs toegeken moet word. Daar word gevoel dat die Suid-Afrikaanse regering ook alternatiewe maatreëls moet ondersoek om die Zimbabwiërs in hul nood by te staan en die ongewenste onwettige verkeer oor die grens te stuit.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines