ADVERTISEMENT:

 

Dorpsgebied word opgeëis

 

News  Date: 05 August 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Verskeie landmerke in die dorp staar tans ietwat van ‘n duistere toekoms in die gesig, nadat grondeise daarop gepubliseer is.

Die nuwe Kutama/Sinthumule maksimum sekuriteit gevangenis, die gholfklub en gholfbaan, Laerskool Louis Trichardt, die historiese Noakes residensie, die AGS-kerkgebou, die SAVF Dienssentrum, die gronde van die Dierebeskermingsvereniging, die woonhuis van die hooflanddros, die Voortrekkergronde en die terrein van die Soutpansberg Kommando is onder die eiendom wat opgeëis word deur die Masagani-gemeenskap, ingevolge ‘n grondeis wat amptelik deur die Kommissie vir die Herstel van Grondregte gepubliseer is. Dit sluit grond in wat in private besit is, sowel as grond wat aan die Staat en aan die plaaslike Stadsraad behoort.

Volgens amptelike stukke wat deur die kommissie gepubliseer is, word dit as ‘n geldige eis beskou en dek die groep se grondeis groot gedeeltes van die plaas Bergvliet, ‘n area wat in die weste begrens word deur Otto’s Hoogte, in die suide deur die spoorlyn en in die ooste deur die formeel-opgemete gedeelte van die oorspronklike dorp Louis Trichardt.

Volgens ‘n woordvoerder van die plaaslike munisipaliteit is grondwaardeerders reeds aangestel om die betrokke eiendomme te waardeer.

Besonderhede oor die grondeis is tydens ‘n vergadering van belanghebbendes op 15 Junie vanjaar verstrek en die huidige eienaars is ‘n week tyd gegun om te reageer en aan te dui of hulle bereid is om die eiendom te verkoop of nie.

Tydens die jongste vergadering van die Makhado Munisipaliteit is ook verwys na grondeise van die Ramavhoya-stam en die Tshikudo Ramabulana gemeenskap op die plaas Vondeling 285 LS en spesifiek na die gedeeltes van die plaas wat die eiendom van die Louis Trichardt Munisipaliteit is. Die Raad het besluit om formeel te versoek dat die Grondeise Kommissie ander moontlikhede as die herstel van grondregte moet oorweeg in die geval van eise op grond wat in besit van die Raad is. Die kommissie het die bevoegdheid om kontantvergoeding of ruil-eiendom aan te beveel.

Die Munisipaliteit het die kommissie ook versoek om die Raad se belange in aanmerking te neem op eiendom waar die raad water en elektrisiteit verskaf.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines