

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 August 2005
LEVUBU – ‘n Unieke afskeidsfees word hier beplan, te midde van die ingrypende veranderinge wat vir die Levubu-gemeenskap voor die deur lê.
‘n Groot getal mense, wat vir etlike dekades lank vriende was en ‘n sonderlinge gemeenskap gevorm het, sal eersdaags weens die veranderinge uitmekaar gaan, nadat amptelike verkoopkontrakte ingevolge die regering se grondherverdelingsprogram vir ‘n aantal Levubu plase deur die staat en die betrokke eienaars onlangs onderteken is.
Die afskeidsfees word beplan vir Saterdag, 3 September.
“Ons voel almal dat ons nie sonder ‘n behoorlike afskeid uitmekaar kan gaan nie,” het ds. Petrus Kriel van die NG Kerk op Levubu vandeesweek in ‘n onderhoud gesê. “Ons wil graag as ‘n gemeenskap die tyd wat ons met mekaar gedeel het en die ervaringe wat vir ons kosbaar bly, seremonieel saam vier in ‘n gepaste afskeidsfees.
“Die hele Soutpansberg word genooi om saam met ons deel te hê aan die afskeidsfees wat om 09:00 op Saterdag, 3 September, op die NG Kerkterrein sal plaasvind. Ons beoog vir oulaas ‘n regte boerefees,” het ds. Kriel gesê.
Hy sê Levubu het deur die jare ‘n kenmerkende kultuur van gemeenskaplikheid en historisiteit gehad.
“Alhoewel die grondeise Levubu skei tussen verkopers en nie-verkopers, wil ons graag hierdie tradisionele gemeenskap met mekaar bly deel,” het hy gesê.
Ds. Kriel het bekend gemaak dat ‘n gedenkteken in die vorm van ‘n klein kapel op die kerkterrein beoog word. Die “afskeidskapel” sal tydens die feesviering onthul word.
Verskeie ander gedenktekens en besienswaardighede wat verband hou met belangrike gebeure in die geskiedenis van Levubu, versier reeds die kerkterrein. Dit sluit in die Pionierspark Botaniese Tuin en die indrukwekkende vyf suile van die Pioniersmonument, wat die ontstaansgeskiedenis uitbeeld sedert die eerste pioniersnedersetting in 1860.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
