

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 April 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Personeel en kliënte van Nedbank in Louis Trichardt moes Woensdagoggend 'n geruime tyd op die sypaadjie staan en wag, terwyl ondersoek aan die gang was na vreemde skade by die hoofingang.
Volgens spore oor die geplaveide stoep het 'n voertuig reg van voor teen die buitenste voordeur gestamp, die glas gekraak en die metaalkosyn gebuig. Dit is nie duidelik of dit 'n roofpoging was nie. Volgens die spore was dit nie 'n voertuig wat op straat buite beheer geraak of gegly het nie. Dit wil voorkom asof die voertuig vanaf die oorkant van die straat opsetlik ingedraai het om oor die sypaadjie en stoep reg op die deur af te stuur. Dit is moontlik dat die voertuig in trurat op die deur afgestuur is. Net die buitenste dubbeldeur is beskadig.
Die takbestuurder, me. Karin Slabbert, sê die skade is Woensdagoggend met oopsluittyd bemerk. Dit het 'n geruime tyd geduur voordat reaksie vanaf die polisie bekom kon word.
"Na ons eerste oproep het ons lank vrugteloos gewag. Toe ek weer bel, het die beampte wat noodoproepe hanteer gesê hy weet niks van die vorige oproep nie, aangesien hy pas aan diens gekom het. Ons het toe ten einde raad 'n private ondersoekagentskap gebel wat onmiddellik opgedaag het. Die polisie het later bygekom."
Volgens die voorlopige aanduidings is geen verdere skade aangerig nie. Die ondersoek na die voorval duur voort.

ADVERTISEMENT:
