ADVERTISEMENT:

 

Die kroos katjies wat aan hulle eie lot oorgelaat is en voor Nada's Ark weggegooi is. Foto: Nada de Villiers.

Weggooi katjies het talle warm onder die kraag

 

News  Date: 04 December 2015

 

‘n Kroos grootoog katjies, wat sommer weggegooi is, het inwoners van Louis Trichardt warm onder die kraag gehad.

‘n Kartondoos met agt babakatjies daarin, is op die voorstoep van dr. Nada de Villiers se veeartspraktyk, Nada’s Ark, gelos. Nada het Maandag die katjies ontdek. Wat haar woedend gemaak het, was nie die feit dat die katjies daar gelos is nie, maar dat die “skenker” nie eens die ordentlikheid gehad het om die kartondoos behoorlik toe te maak nie.

Drie van die katjies het uitgekom en het tot in die pad gedwaal, waar hulle doodgery is. “Dis skandelik hoe mense teenoor diere optree en hoe maklik dit is om net 'ontslae' te raak van die 'probleem'. Harteloos!” het ‘n ontstelde Nada gesê.

Inwoners het net so sterk gereageer, en meen dit was skandelik, gemeen en gewetenloos van mense om Nada se liefde vir diere sonder skroom uit te buit. Party mense se kommentaar sal liefs nie herhaal word vir dié lesers wat sensitief is nie.

Nada kon nie self die katjies inneem nie, omdat sy reeds 19 diere-weeskinders het waarvoor sy sorg. “Wees diere kruip so maklik in my hart in ... as mens eers in hulle sagte oë gekyk het, dan laat hulle jou hart smelt en dan vat jy hulle maar,” het Nada gesê.

Buiten vir dit, raak dit ook ‘n duur operasie om vir al die weggooidiere te sorg. Dit is egter wel die eerste keer dat iemand diere net los voor haar deur. Gewoonlik, vertel Nada, kom laai mense in persoon self hulle weggooidiere by haar af. Haar rekening vir wesies beloop al by die R70 000 net vir hierdie jaar alleen.

Nada het ‘n beroep gedoen op inwoners om hulle diere, veral hulle katte, te laat steriliseer. Sy vra R185 vir die sterilisasie van mannetjieskatte en R404 vir wyfiekatte. Die mannetjies kan gebring word op ses maande en die wyfies op vyf maande.

Intussen het Nada al vir twee van die katjies ‘n liefdevolle huis gekry by mense in Musina. Sy vra ‘n aannemingsfooi, wat eintlik ‘n vooruitbetaling is vir die katjies se sterilisasie operasie.  

Vir meer inligting kan die praktyk geskakel word by tel. 015 516 0292.

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines