ADVERTISEMENT:

 

'n Splinternuwe Mercedes Benz is afgeskryf, nadat die bestuurder daarvan beheer verloor het en teen 'n boom gebots het, oorkant die munisipale woonwapark in Songozwistraat. Die ongeluk is vroeg Saterdagoggend gerapporteer. Foto verskaf.

Spoed en roekeloosheid rede vir talle ongelukke

 

News  Date: 04 December 2015

 

Padveiligheid gedurende die Kersseisoen het opnuut onder die soeklig gekom, met twee mense wat reeds gesterf het nog voordat die Desembervakansie afgeskop het. Talle mense is ook beseer in verskeie ongelukke op plaaslike paaie in aanloop tot Desember.

In die eerste voorval, op 22 November, is vier mense beseer in ‘n ongeluk op die R522 (Vivo-pad), nadat die bestuurder beheer verloor het oor die voertuig en dit omgeslaan het.

Twee dae later is twee mans dood nadat die vragmotor waarin hulle op reis was, omgeslaan het naby die Witvlag-afdraai op die N1-noord. Dié gastenkwa se bestuurder het vermoedelik beheer verloor, wat veroorsaak het dat die vragmotor omgeval het. Hy en sy passasier is op slag dood. Die ongeluk het ongeveer 23:00 plaasgevind. Nooddienswerkers het deur die nag gespartel om die pad weer opgeruim te kry. Die tenk was gelukkig leeg gewees.

Terwyl nooddienswerkers nog die oggend besig was op hierdie toneel, is nog ‘n persoon beseer in ‘n ongeluk by die N1/Rissikstraat-kruising op 25 November. ‘n Verkeersvoertuig, wat vermoedelik op pad was na die tenkwa-ongelukstoneel, het in die kruising tromp-op met ‘n aankomende bakkie gebots.  

Die daaropvolgende dag is 16 mense beseer in die vierde ongeluk vir die week. Hierdie ongeluk het plaasgevind op die N1-suid naby die Viva Brandstofstasie in die Bandelierkop-omgewing. ‘n Bakkie en ‘n sedan, wat in teenoorgestelde rigtings op pad was, het tromp-op met mekaar gebots. ‘n Derde voertuig, wat nie betyds kon stop nie, het ook met die twee voertuie gebots. Drie passasiers in die sedan moes met lewenskake uit die wrak bevry word. Hulle is saam met die oorblywende 13 beseerdes in die hospitaal opgeneem vir behandeling. Volgens nooddienswerkers op die toneel het hulle beserings gewissel van ernstig tot minder ernstig.

Saterdag was daar nog ‘n ernstige ongeluk in die dorp, toe ‘n vroulike bestuurder beheer verloor het oor haar splinternuwe Mercedes Benz en in ‘n boom vasgery het in Songozwistraat. Die ongeluk het plaasgevind naby die parkeerterrein van Stormvoël Bande. Die hele voorkant van die Mercedes is vermorsel met die impak teen die boom en die lugsakke het volgens ooggetuies “soos gordyntjies aan flarde gehang.”

Die bestuurder en nog twee passasiers is na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal vervoer vir mediese behandeling.

Later dieselfde dag is nog ‘n ongeluk gerapporteer, weereens by die berugte Witvlag-afdraai. Niemand is gelukkig ernstig beseer in hierdie voorval nie, waarin die bestuurder beheer verloor het in die draai en sy voertuig gerol het.

Sondagaand is vier mense beseer toe die Volkswagen Polo waarin hulle op reis was naby Bandelierkop gerol het. Een persoon het ernstige beserings opgedoen en is na die Elim Hospitaal vervoer vir behandeling.

Die afgelope week het rustig afgeskop, sonder enige ernstige ongelukke. Nooddienswerkers het die hoop uitgespreek dat dit so sal voortduur tot ná die Kersseisoen. Hulle het verder die mening uitgespreek dat die grootste bydraende faktore tot ongelukke spoed en roekelose bestuursgewoontes is.

Plaaslike motoriste is opnuut gemaan om uiters versigtig te wees, veral omdat meeste mense reeds vooruit beplan aan ‘n somervakansie en padveiligheid uit die oog verloor.

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines